Rappies gr 1’s word amptelik deel van die familie
Graad Een-leerders het onlangs hul inhuldigingseremonie met groot afwagting aangepak en so amptelik deel geword van die Rapportryer-familie.
Laerskool Rapportryer het ‘n spesiale klokseremonie gehou om hul nuwe Graad Een-leerders amptelik te verwelkom.
Volgens skoolwoordvoerder Celeste Wentzel is hierdie seremonie ‘n jarelange tradisie wat daarop gemik is om nuwe leerders as deel van die Rapportryer-familie te maak.
“Die gebeurtenis het ‘n feestelike atmosfeer geskep waar leerders, ouers en onderwysers saamgekom het om die belangrike mylpaal te vier. Die klok, wat simbolies is van die begin van ‘n nuwe reis in die leerproses, is met groot trots en opwinding aangebied,” het Celeste vertel.

Sy het bygevoeg die seremonie het baie belangrike doelwitte vir die skool. Dit sluit familiewaardes in om die skool se fokus op die gemeenskap te beklemtoon. Ook tradisies, wat nie net vir die leerders betekenisvol is nie, maar ook die hele skoolgemeenskap.
“Die Graad Een-leerders het met groot glimlagte en opgewondenheid deelgeneem aan die seremonie. Dit simboliseer hul eerste stap in hul akademiese reis. Laerskool Rapportryer se benadering om elke kind as deel van ‘n groter familie te sien dra by tot ‘n positiewe leeromgewing en ondersteunende gemeenskap,” het Celeste afgesluit.



