Rappies smul aan warmsjokolade
Laerskool Rapportryer het onlangs Nasionale Warmsjokolade Dag gevier met groot opgewondenheid.
Laerskool Rapportryer het sy leerders met ‘n heerlike Warmsjokolade Dag bederf waar die personeel spoggerig aangetrek het.

Volgens skoolwoordvoerder Celeste Wentzel het die skool se personeel die geleentheid spesiaal gemaak deur prettige hoede te dra en sodoende die gees van samehorigheid en opwinding aan te wakker.

Leerders is ook bederf met gevulde nessies propvol sjokolade wat gesorg het vir groot opgewondenheid en glimlagte regdeur die skool.

“Die vrolike atmosfeer was aansteeklik en die warm en koue sjokolade het nie net vir ‘n lekker bederf gesorg nie maar ook vir ‘n gevoel van warmte en samehorigheid onder die skoolgemeenskap. Hierdie gesellige viering het weereens bewys dat Laerskool Rapportryer nie net akademie eerste sit nie maar ook waarde heg aan die bou van ‘n positiewe en samehorige skoolkultuur,” het Celeste vertel.



