Rappies-kleuters hou atletiekdag
Laerskool Rapportryer se jaarlikse kleuteratletiekdag was 'n sukses.

Laerskool Rapportryer het onlangs hul jaarlikse kleuteratletiekdag aangebied en dit was ‘n dag vol pret en gesinsgees.
Kleuters van die ouderdomsgroepe tussen drie en ses het met groot entoesiasme aan verskeie items soos verspring, hoogspring, gewigstoot, hekkies en naellope deelgeneem.
Volgens Celeste Wentzel, skoolwoordvoerder, het die jong atlete met opgewondenheid en selfvertroue deelgeneem.
“Ouers, oumas, oupas, ooms en tannies het die kinders se atletiekpogings met entoesiastiese ondersteuning aangemoedig. Leiers van die skool het ook bygedra tot die atmosfeer met stalletjies wat heerlike eetgoed en versnaperinge aangebied het. Die weer was perfek vir ‘n sportdag – sonskyn en ‘n vars briesie wat die energie hoog gehou het.
“Elke kleuter is aan die einde van die dag met ‘n medalje beloon as ‘n herinnering aan hul deelname en harde werk.”