Rappies laat die tekkies brand vir Valentynsdag
Die liefde was volop by Laerskool Rapportryer vir Valentynsdag.
Laerskool Rapportryer se leerders het onlangs ter viering van Valentynsdag hul tekkies verbrand en rooi gepronk.
Die juniors het die skoolweek afgeskop met ‘n vrolike oggendsokkie na tweede pouse waar daar gelag en lekker gekuier was. Van vroegoggend was daar ‘n feestelike atmosfeer terwyl die jongspan hul beste danspassies uitgehaal het.

“Woensdagaand het die seniors aan die beurt op die plein gekom vir ’n deftige sokkie wat ’n absolute sukses was,” het Celeste Wentzel, skoolwoordvoerder, gesê.

Die seniorsokkie is gelei deur leierraadsvoog, juffrou Magda Swart.
“Juniorraadvoog juffrou Anelise Collins het die oggend tot in die fynste detail beplan – en dit het gewys! Die leerders het in styl opgedaag en vol energie deur die oggend gedans,” het sy voortgegaan.

Beide die juniors en seniors het gewys dat dans nie net ‘n prettige tydverdryf is nie, maar ook ‘n manier om skoolgees en samehorigheid te bevorder.

Op Valentynsdag het ouers ook ‘n verskeidenheid stalletjies opgerig om die leerders te bederf.

“’n Groot dankie aan die leiers, ouers, onderwysers en organiseerders wat hierdie wonderlike geleenthede moontlik gemaak het – julle het jouself oortref! Laerskool Rapportryer sien reeds uit na die volgende dansgeleentheid!” het sy afgesluit.



