Noordvaalfinaal: Riebeeckrand se o.15’s seil weg as kampioene
Riebeeckrand se o.15-span seil weg na Noordvaalbeker-titel met ’n indrukwekkende 34–0 wegholsege.
Die finaal van die Noordvaalbeker (Groep 3-afdeling) by Hoërskool Riebeeckrand het ’n groot skare gelok, en die plaaslike skool kan trots wees op hul o.15-span wat deurgedring het na die eindstryd.
Twee ander Riebeeckrand-spanne was ook op die dag in aksie.

Eers het die o.14-spanne van Hoërskool Riebeeckrand en Hoërskool Linden teen mekaar gespeel. Die besoekers het net-net genoeg gehou om naelbyt 20–17 te wen.
Daarna het Riebeeckrand se o.15-span dit heel anders aangepak en ’n oortuigende 34–0-sege teen Bastion behaal. Hulle is dus as SDC Noordvaalbeker (Afdeling 3) wenners gekroon.

Wat die seniors betref, het Riebeeckrand se eerste span alles gegee, maar dit was Vryburg wat uiteindelik as kampioene met ’n 18–10-oorwinning gekroon is.
“Ons Riebeeckrand-seuns het hulle harte en siele op die veld gelos en elke oomblik was gevul met trots en vasberadenheid. Of dit wen of verloor was, maak nie saak nie. Wat tel, is dat elke span met eer en passie gespeel het,” het Hoërskool Riebeeckrand se woordvoerder Diana Nel gesê.

Bastion se bemarker, Florinda Hearn, sê hul o.15-span het vanjaar ’n groot mylpaal bereik deur tot in die Noordvaal-finaal deur te dring. Hulle het verlede jaar net tot die semifinaal gevorder.

“Dit was ’n lang pad met Leeus-streeksuitspele, en harde kwart- en semifinale. Hierdie reis was ’n waardevolle leerskool en getuig van harde werk, deursettingsvermoë en absolute toewyding van elke speler en afrigter. Ons is ongelooflik trots op die span se groei en glo vas dat hulle ’n blink rugbytoekoms het. Baie geluk aan Hoërskool Riebeeckrand wat as wenners gekroon is,” het sy gesê.










