Schools

Riebeeckrand akademiese ster se drome strek oor grense

Riebeeckrand se Zelmari Oosthuizen (15) berei voor vir ’n akademiese toer in die VSA – maar sy het steeds finansiële steun nodig om haar droom te verwesenlik.

Hoërskool Riebeeckrand-leerder Zelmari Oosthuizen (15) is uitgenooi om verskeie universiteite in die Verenigde State van Amerika (VSA) te toer.

Ná haar top-10 akademiese prestasie is sy met ’n spesiale uitnodiging vereer om deel van die Academic Achievers-groep te wees.

Volgens haar ma, Cherische, geniet Zelmari veral Wiskunde, asook Lewens- en Fisiese Wetenskappe.

“Sy pluk nou die vrugte en is doelgerig om haar droom in veeartsenykunde te volg. Ons is geweldig trots op haar,” het Cherische gesê.

Zelmari het al verskeie kere op die top-10 vir akademiese uitnemendheid verskyn. Haar voorbereiding vir die toer het reeds verlede jaar begin met die reël van paspoorte en administrasie. Tans hou sy en haar ma ’n fyn oog op die VSA se weer, sodat sy die regte kleredrag kan saamneem.

“Sy sien die meeste uit na die kankervoorlesing wat sy beplan om by te woon. Zelmari wil nie net die toer geniet nie, maar ook haar horison verbreed. Sy is ’n uitstekende mens wat God altyd eerste stel en sy is nie bang om dit te bely nie. Haar harde werk en deursettingsvermoë gaan ons verstand te bowe. Woorde kan nie beskryf hoe ongelooflik trots en bevoorreg ons is om haar ouers te wees nie,” het Cherische gesê.

Hoewel sy uitsien na die geleentheid, erken Cherische dat sy baie afhanklik van Zelmari is en dat hulle amper soos beste vriendinne is. Sy troos haar egter daarin dat die organiseerders en begeleiers bevoeg en goed opgelei is.

“Ek hoop Zelmari sien dat die wêreld haar soveel meer kan bied en dat sy genoeg geleenthede het om aan te pak. Hierdie toer is ’n kans om kinders se neuse uit die boeke te kry en kennis eerstehands te ervaar. Ongelukkig kom dit met ’n prys. Ons het geweet dit gaan duur wees, maar ook dat sy dit nie kan misloop nie. Omdat baie familielede, insluitend ons, voel dat sy dit regtig verdien, het ons begin skouer aan die wiel sit om die finansies bymekaar te maak,” het sy verduidelik.

Om fondse vir die toer in te samel, het Cherische ’n pastei-projek begin waar sy pasteie aan die gemeenskap verkoop. Hulle benodig ongeveer R8 000 voor 29 September.

Belangstellendes wat die projek wil ondersteun, kan vir Cherische kontak by 076 187 1534.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Randfontein Herald in Google News and Top Stories.

Dominique Duvenhage

Dominique Duvenhage joined the Randfontein Herald team in 2023. From a young age, she developed a great fascination with words and language. At the age of 12, she started writing novels and thereafter eventually began to write poems. Being a journalist is not a job for her, it is a career. As your community journalist, she has taken a pledge to write truthfully and reliably.

Related Articles

Back to top button