ATKV Comenzo-tak eer Rappies vir inspirerende revue
Laerskool Rapportryer se geloofsgevulde revue, ‘Lig’, het só beïndruk dat dit hulle ’n gesogte ATKV Comenzo-tak toekenning besorg het.
Laerskool Rapportryer se leerders en selfs personeel het met ’n onvergeetlike revue-optrede gesorg dat hulle ’n toekenning by die ATKV Comenzo-tak losslaan.
Die tema ‘Lig’ het op ’n visuele én geestelike vlak vlam gevat by die skool, waar die leerders geloof, hoop en vermaak gevier het.
Volgens die skoolwoordvoerder, Celeste Wentzel, is die revue oor sewe aande aangebied.
“Die vermaak was geanker deur ’n diepgaande geloofsboodskap wat gefokus het op Jesus Christus as die Lig van die Wêreld. Dit is uitgebeeld deur beelde van die see, berge en die kruis wat die gehoor herinner het aan die krag van lig in die donker,” het sy gesê.
Sy het bygevoeg: “Die boodskap het nie net die tema versterk nie, maar ook ’n gevoel van verbondenheid en dankbaarheid geskep.”
Organiseerder en onderwyser, Elmarie Myburgh, se droom het ook lewe gekry op die verhoog met dekor soos lanterns, sterre en ligte kruise wat ’n helder atmosfeer geskep het.
Celeste het verduidelik dat die program daarop gemik was om karakter en geloof te vorm. Een van die hoogtepunte was die blaas van ramshorings deur graad 1-seuns – ’n ervaring wat die gehoor nie maklik sal vergeet nie.
“Om ’n ATKV toekenning te kry, is ’n groot klop op die skouer,” het Celeste benadruk.
Leerders het ook hul ervaring van die revue met die Randfontein Herald gedeel.

Lexi de Canha (graad 1) het gesê dat die revue vir haar baie lekker was en haar gunsteling deel was toe die seuns die ramshorings blaas.

Olivier Marx (graad 3) het saamgestem dat dit uitstekend was.
“Dit was so lekker om mense te sien glimlag en dit het my hart laat skyn. Ons tema was om die lig te wys en mense van die Here te leer. My gunsteling deel was toe ons gedans het en die gehoor saam hande geklap het.”
JP van der Merwe (spesiale skool) het genoem hy wou graag sy ouma trots maak. Hy het ’n gloeilampkostuum gedra.

Reagan Jonker (graad 7) sê die week het sy spanwerkvaardigheid verbeter.
“Die lekkerste was toe al die leerders aan die einde saam gedans het. Die moeilikste deel was om die dansbewegings te leer, want ek is nie ’n goeie danser nie.”

Vir Micke Jacobs (graad 7) was die lekkerste die aand toe die eregaste gekyk het.
“Daardie aand het ons ons beste gegee. Die moeilikste was om laat aande op te tree en vroeg op te staan.”
Marlo Jordaan (graad 7) het die revue baie geniet.
“Dit was die laaste jaar wat ek so iets saam met my vriende en klasmaats kon doen. Om te leer dans was die moeilikste, want ek het twee linker voete.”
Die lekkerste vir Zelni Venter (graad 7) was die eerste aand toe die gehoor vars was en hulle kon wys hoe hul lig vir die Here skyn.
“Die moeilikste was om saam met die seuns te dans, want hulle sukkel om die bewegings reg te doen.”



