Rappies beleef avontuur, spanwerk en geloof in Hazyview
Van krokodille sien tot om die kampvuur sit en stokbrood maak, Laerskool Rapportryer se graad 6-leerders het onlangs ’n onvergeetlike avontuur beleef tydens hul toer na Hazyview.
Laerskool Rapportryer se graad 6-leerders het onlangs ’n onvergeetlike avontuur beleef waarin hulle hoogtevrees moes oorkom en hul spanwerk versterk het.
Die groep het hul weeklange toer na Hazyview met propvol rugsakke en groot opgewondenheid aangepak.
Onderwysers Mariska van der Merwe, Magriet de Lange, Errard Ernsting en Brandon Viviers het die toer begelei.

Een van die hoogtepunte was die stap oor indrukwekkend hoë brue. Volgens skoolwoordvoerder Celeste Wentzel is die leerders behoorlik uitgedaag om hul vrese te oorkom.
“Die opgewondenheid was groot toe die leerders regte krokodille en ander reptiele van naby kon sien. Daar is nie net ontdek nie, maar ook gekook – die potjiekoskompetisie het die kreatiwiteit en spanwerk van elke groep getoets,” het Celeste gesê.

Sy het bygevoeg dat almal een oggend om die kampvuur vergader het waar stokbrood oor die kole gebak is – ’n eenvoudige, maar kosbare ervaring.
“Wat die toer egter werklik besonders gemaak het, was die aand se Praise and Worship-sessies, waar almal saam gesing, geluister en hul harte op die Here gerig het. Dit het ’n spesiale geestelike diepte aan die toer gegee, en baie het dit as hul gunstelingdeel beskryf,” het sy vertel.

“Die toer was nie net ’n skooluitstappie nie – dit was ’n geleentheid vir groei, nuwe vriendskappe en herinneringe wat vir altyd sal bly,” het Celeste afgesluit.



