Voornemens vol vuur: Rappies kyk vorentoe na 2026
Rapportryer-leerders deel hul drome, dryfkrag en planne om 2026 ’n uitblinkerjaar te maak.
Laerskool Rapportryer se leerders sien met trots en opgewondenheid uit na die nuwe jaar en deel hul Nuwejaarsvoornemens.
Zelri Lombard se grootste droom is om vir die eerste span netbal te speel.
Sharlize Boucher het gesê: “Ek het ’n passie vir sport en wil graag op die podium staan by Gauteng-landloop. Akademies mik ek om by die top-10 leerders te wees en ereklere te verwerf. Ek droom ook daarvan om ’n leier te wees en ’n positiewe verskil te maak.”
Hunter Williams, lid van die fotografieklub, wil sy fotografievaardighede hierdie jaar verder ontwikkel. “As dit God se wil is, sal 2026 die beste jaar nóg wees,” het hy opgemerk.
Hailey Fourie beoog om harder te werk en deel van die top-10 akademiese leerders te wees.
Zalunelle van Wyk het gesê: “Ek wil graag in die top-10 wees, want ek glo in myself.”
Zander Botha se doelwit is om nommer een op die akademiese top-10 bord te word. Hy wil ook sy krieketvaardighede verbeter en die titel as Beste Kolwer van die Jaar verdien.



