’n Boodskap van hoop vir Kersfees en die nuwe jaar
Die adjunkhoof van Rappies dra ’n boodskap van hoop en seën vir Kersfees, asook die nuwe jaar, aan die gemeenskap oor.
Kersfees het aangebreek, en Laerskool Rapportryer se adjunkhoof, Marinus de Beer, is opgewonde om sy seënwense met die Randfontein-gemeenskap te deel.
Marinus het opgemerk dat ’n mens graag Kersfees op ’n positiewe noot wil begin. Hy hoop om hierdie seënwense nie slegs vir Kersfees nie, maar deur die hele nuwe jaar te dra.
“Kersfees handel oor Christus se geboorte, wat die belofte van ewige lewe en volmaakte verlossing simboliseer. Daarom behoort Kersfees ook die begin van redding vir die nuwe jaar te wees. Daardie opoffering behoort tot iets goeds te lei,” het hy gesê.
Hy het verder genoem dat elke mens die vermoë het om goed te doen in hul eie lewe, maar sy wens is dat mense hierdie vermoë sal aanwend om ’n verskil in ander se lewens te maak.
“Ek hoop die gemeenskap sal saamstaan sodat almal mekaar kan bystaan. Dit moet nie net die mikpunt vir Kersfees wees nie, maar ook vir die jaar wat voorlê,” het hy afgesluit.



