Klein voetspore, groot drome by RAM
Van trane en trotse ouers tot groot glimlagte en nuwe drome – die gange van Laerskool Randfontein bruis van opgewondenheid terwyl graadeentjies en nuwe onderwysers saam die 2026-skooljaar vol verwagting aanpak.
Die gange van Laerskool Randfontein het onlangs gegons van opgewondenheid toe die nuwe graad een-leerders hul eerste tree in hul skoolloopbaan gegee het.

Henk en Ezél van der Walt het hul seun, Erik, by die skool afgelaai vir sy heel eerste skooldag. Ezél het vertel dat hulle baie opgewonde is oor wat vir Erik voorlê en vol vertroue is dat die skool vir hom ’n goeie toekoms sal bied.
Sy het egter ook erken dat daar ’n tikkie hartseer is, aangesien dit moeilik is om te besef dat hul “baba” nou reeds ’n groot seun is.

Die tweeling, Duncan en Riley Coetzee, was ewe gereed om hul eerste skooldag saam aan te pak. Duncan sien veral uit na pouse saam met sy nuwe maats, terwyl Riley uitsien om aan netbal deel te neem, asook deel te wees van Mnr en Mej Rammie. Hul ma, Riana, het vertel dat die hele gesin opgewonde is om hul jongstes – en enigste dogter – uiteindelik skool toe te stuur. Volgens haar is albei kinders gereed en vol entoesiasme vir die pad vorentoe.

Die skool het ook vier nuwe studente-onderwysers verwelkom. Mackaylla Janse van Vuuren het verduidelik dat haar passie vir onderwys uit die Bybel spruit, aangesien sy glo dat die Here ’n besondere liefde vir kinders het. Sy beskou dit as ’n groot voorreg om jong leerders te onderrig.

Deoné Scheepers, wat self matriek met ses onderskeidings geslaag het, sien uit daarna om tyd saam met die kinders deur te bring en nuwe vaardighede aan te leer. Sy het genoem dat sy ’n groot passie vir kinders het en uitsien na interaktiewe werk met die leerders.

Cherilee Naudé is opgewonde om die jonger leerders te ontmoet en waardevolle ervaring op te doen oor hoe om met kinders te werk, asook om ’n voorsmakie te kry van wat die toekoms in die onderwys vir haar inhou.

Conrad Brandt het gedeel dat hy vier onderskeidings as matrikulant behaal het. Hy sien daarna uit om as student te leer en om die beste onderwyser moontlik te wees. Benewens sy passie in die klaskamer, is hy ook opgewonde oor die komende sportseisoen, insluitend rugby, krieket en atletiek. Hy het vertel dat sy liefde vir onderwys ontstaan het uit die invloed van ’n inspirerende onderwyser tydens sy matriekjaar, wat hom laat besef het watter impak ‘n onderwyser op ’n jongmens se lewe kan hê.



