Rappies-atlete dra hul skool se naam met trots
Laerskool Rapportryer se atlete beïndruk met uitstekende prestasies, sportmangees en trots tydens onlangse byeenkomste.
Laerskool Rapportryer se atlete het weereens bewys dat harde werk en deursettingsvermoë werklik vrugte afwerp.
Volgens die skoolwoordvoerder, Celeste Wentzel, het die Rappies tydens onlangse atletiekbyeenkomste hul skool se naam met trots hoog gehou en uitstekende prestasies behaal.
“Van vinnige naellopers tot vasberade langafstandatlete, indrukwekkende verspringers en kragtige gewigstoters – elke deelnemer het sy of haar beste gelewer. Die toewyding gedurende oefeninge en die span se positiewe gees was duidelik sigbaar op die baan en veld,” het sy gesê.

Sy het bygevoeg dat dit nie net die medaljes en plekke is wat tel nie, maar ook die sportmangees, dissipline en trots waarmee die leerders deelneem.
“Ons atlete getuig van karakter, respek en deursettingsvermoë, en dit maak ons ongelooflik trots,” het Wentzel gesê.
Sy het afgesluit deur te beklemtoon dat Laerskool Rapportryer voortbou op ’n trotse sporttradisie, en dat hierdie jong atlete bewys dat die toekoms blink.
“Baie geluk aan elke Rappie wat deelgeneem het – julle dra die Rappies se naam met waardigheid en trots!”



