Ligawennertitel vir Ram o.12A-netbalspan
'Netbal is vir ons nie net ‘n sport nie – dit is ‘n passie wat ons kan deel saam met ‘sussies’ wat dieselfde passie'
Laerskool Randfontein (Ram) se o.12A-netbalspan spog vanjaar met die titel van ligawenners nadat hulle tydens die tweede kwartaal verskeie skole in die liga geklop het.
Volgens Melinda van Heerden, afrigter van die span het die groep dogters reeds vroeg in die jaar begin oefen. Die afrigters het na ‘n lang kopkrappery vanjaar ‘n super groep netbalspelers saamgestel.
Melinda het vertel dat hulle vier tot vyf dae ‘n week geoefen het, en die spelers wou selfs naweke oefen. “Wat dit ongelooflik gemaak het is dat die meisies dit wou doen, hulle wou selfs na donderbuie oefen.”
Die afrigters glo dit is nie net fisiese fiksheid wat die span suksesvol gemaak het nie. Hulle harde werk aan spanvertroue en positiewe denke tydens oefensessies het die deurslag help gee.
Netbal is vir ons nie net ‘n sport nie – dit is ‘n passie wat ons kan deel met ‘sussies’ wat dieselfde passie het,” het Melinda gesê.
Na hul oorwinning in die liga was die span se honger vir sukses nog nie gestil nie.
‘n Senutergende poging vir ‘n plek in die Distrikskampioenskappe het die span die geleentheid gegee om aan die Gauteng-kampioenskappe deel te neem.
“Hoewel die span nie vêr tydens dié kampioenskappe gevorder nie, was dit tog ‘n ongelooflike ervaring en leerskool. Ons kon nie die pyp rook nie, maar watch this space; volgende jaar is ons terug,” het Melinda gesê.
Anri Naude is na die toernooi in die Gauteng-netbalspan opgeneem. Sy neem tydens die skoolvakansie aan die Suid-Afrikaanse netbaltoernooi deel.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n e-pos na randfonteinherald@caxton.co.za (sluit asseblief kontakbesonderhede in) of skakel ons by 011 693 3671.
Vir daaglikse gratis gemeenskapsnuus aan die Wes-Rand, besoek ook ons susterkoerante se webtuistes Roodepoort Record, Krugersdorp News en Get It Joburg West Magazine
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie om jou stem te laat tel!





