Ram teken voëltjie aan op gholfdag
Laerskool Randfontein (Ram) se jaarlikse gholfdag was 'n sukses, sê skoolwoordvoerder.
Van gholfspelers wat ‘n bietjie sukkel tot semipro’s het Laerskool Randfontein (Ram) se jaarlikse gholfdag ondersteun.
Die gholfdag het verlede maand plaasgevind en is aangebied deur die skool se leiers, leierouer- asook gholfdagkomitee wat onder die leiding is van Gerhard Rautenbach. Die formaat was Better Ball Stableford.

Annie Nolan, skoolwoordvoerder het vertel, “Vir sommige van die spelers was dit een van hul beste speeldae, vir ander was dit een van hul langstes.”
Na ‘n lang dag van speel is die spelers beloon met ‘n heerlike aandete in die klubhuis. Daarna was daar ‘n veiling van sportsmemorabilia en die prysuitdeling.
Dié groot dag was die resultaat van maande se beplanning. Die skool het baie moeite gedoen met die bemarking, geskenkpakke en die verkryging van borge en pryse.

“Groot dank aan elkeen wat bygedra het tot die sukses van hierdie dag en vir al die harde werk. Baie dankie aan al die borge sonder wie hierdie dag nie moontlik sou wees nie.
‘n Woord van waardering aan al die leierseuns wat as joggies opgetree het en die goeie voorbeeld wat julle op die baan gestel het, sowel as die hoofleiers wat voorwaar weer uitstekende ambassadeurs vir ons skool was,” het Annie gesê.
Die skool sien nou uit na volgende jaar se gholfdag wat hulle nog groter en beter wil maak.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n e-pos na randfonteinherald@caxton.co.za (sluit asseblief kontakbesonderhede in) of skakel ons by 011 693 3671.
Vir daaglikse gratis gemeenskapsnuus aan die Wes-Rand, besoek ook ons susterkoerante se webtuistes Roodepoort Record, Krugersdorp News en Get It Joburg West Magazine
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie om jou stem te laat tel!



