UJ leer Teine ‘n rugbyles, 3de-span die enigste wenners
Alhoewel die Teine hul beste gegee het, was die studente van UJ net te goed in vier uit vyf kragmetings van die Castle Lager Groot Uitdaagliga.
Randfontein Rugbyklub se spanne het onlangs kragte gemeet teen die Universiteit van Johannesburg in die volgende rondte van die Castle Lager Groot Uitdaagliga, maar die studente was net te goed en spog met vier uit vyf oorwinnings.
• Lees ook: Teine 1e-span terug op die wenpad teen Wanderers
Om te begin het Teine se vrouespan 99–0 slae gekry.
Wat die juniors aanbetref was dit ook ‘n lang dag op kantoor met eers die o21’s wat 38–3 verloor het gevolg deur die o19’s se loesing van 47–5. Teine se Dylan Jacobs het sy span se enigste drie gedruk.

Vir die seniors was Teine se derde span die enigste lig in die donker tonnel met ‘n trotse sege van 31–5. Hier het Quintin Korb, Lesley Qamba en Marvin Gwekwe elk een drie gedruk terwyl Sifiso Miya met twee drieë spog. Verder het Ewald Oberholzer drie doelskoppe aangeteken en Mpho Tjale is as Man van die Wedstryd aangewys.
Die tweede span moes tevrede wees met slegs twee drieë gedruk deur Eben Vorster en Dylan Viviers in hul 42–12 loesing. Manny Eyssen kon slegs met een doelskop suksesvol wees en Trevor Chauke is as Man van die Wedstryd beloon.
Die eerste span se wedstryd was uitgestel tot 28 Mei.




