Slim skuiwe bring groot prestasies vir RAM
Laerskool Randfontein se skaakspelers het behoorlik beïndruk tydens die onlangse D2 skaakproewe in Krugersdorp.
Laerskool Randfontein se skaakspan het onlangs aan die D2-skaakproewe deelgeneem, wat by Curro Krugersdorp Primary School plaasgevind het.
• Lees ook: RAM-skaakspelers presteer op provinsiale vlak
Volgens skoolwoordvoerder Annie Nolan is hulle met groot glimlagte en ope arms verwelkom.
Wat ’n spoggeleentheid! Die saal was van hoek tot kant met skaakstelle opgestel, gereed vir die dag se intense wedstryde,” het sy gesê.
Die proewe is in drie afdelings aangebied: o.9, o.11 en o.13. Hoewel die verrigtinge effens later as beplan begin het, het die dag vlot verloop ná ’n verwelkoming deur die skoolhoof. Die skaakspelers het, volgens Annie, ‘hard gedink, groot planne gemaak, gewen en geleer’.
In die o.13-seunsafdeling het Tshire Kalimashe as die D2-wenner uit die stryd getree. Chris Schutte het die tweede plek in die o.11-seunsafdeling verower, terwyl James Naidoo die derde plek in dieselfde afdeling behaal het. In die o.13-dogtersafdeling het Kiara Smyth ’n trotse vierde plek ingeneem.
“Om aan hierdie geleentheid deel te neem is ’n groot eer, aangesien elke skool slegs vier spelers per ouderdomsgroep mag inskryf. Die kompetisie is straf, en spelers moet hard werk om hul droom van ’n plek in die D2-skaakspan te verwesenlik,” het Annie verduidelik.
Ons is baie trots op elke Rammie wat deelgeneem en hul beste gegee het.”



