Studente, die keer Wits, weereens te goed vir R’fontein se Teine
Slegs twee van Teine se rugbyspanne spog met 'n oorwinning teen Wits in die Pirates Groot Uitdaagreeks.
Randfontein Rugbyklub se eerste span het hul tweede agtereenvolgende nederlaag teen studente ervaar ná ’n naelskraapse telling van 26–29.
• Lees ook: UJ leer Teine ‘n rugbyles, 3de-span die enigste wenners
Hierdie keer was hul teenstander Wits Universiteit. Oor die algemeen het Teine slegs twee oorwinnings behaal en vier wedstryde verloor.
Aanvanklik het Teine se vrouespan met 31–5 verloor. Hul enigste drie is deur Amehle Mayongo gedruk, wat die enigste speler was wat daarin geslaag het om punte aan te teken.
Wat die manspanne betref, het Teine se o.19-span ’n nederlaag van 43–10 gely. Puntemakers was Junaid Fortuin en Gontse Malepe, elk met een drie. Beide Samkelo Kgoathisi en Gontse Malepe is as die Manne van die Wedstryd aangewys.
Teine se o.21-span het egter vir vreugde gesorg met ’n spogoorwinning van 31–27. Tristan Odendaal het een drie gedruk en Lisakhanya Kiviet twee. Keagan Taylor het een doelskop en drie strafskoppe oorgeklits, terwyl Devlin du Preez een strafskop suksesvol oorgeskop het. Keagan Taylor en Christiaan Harmse is albei as die Manne van die Wedstryd aangekondig.

Die derde span het ook nie teleurgestel nie en met 29–21 geseëvier. Mpho Tjale, Sifiso Miya, Lesley Qamba en Akhona Tsharane het elk een drie gedruk. Ewald Oberholzer het drie doelskoppe en een strafskop aangeteken, en Lesley Qamba is as die Man van die Wedstryd aangewys.
Teine se tweede span het ongelukkig met 36–29 verloor. Christo van Emmenis en Ishi Adams het elk een drie gedruk, terwyl Sims Ngcutha twee drieë gedruk het. Tiaan Naudé het drie doelskoppe en een strafskop aangeteken, en Sims Ngcutha is as die Man van die Wedstryd aangewys.
Vir Teine se eerste span was die driedrukkers Johan Swart, Ruan du Toit, Michael Tolmay en Bennie Beyleveld, elk met een drie. Janco Tiedt het drie doelskoppe oorgeklits.
Teine se volgende ligawedstryd sal plaasvind op Noordwes-Universiteit se tuisveld.



