Adelle blaas fluitjie op provinsiale vlak – en mik vir meer
RAM-onnie is gekies om Gauteng by die All Ages Netbaltoernooi te verteenwoordig en vertel dis nog net die begin.
Adelle Grobbelaar, ’n onderwyseres en netbalskeidsregter by Laerskool Randfontein, is gekies om Gauteng by die All Ages Netbaltoernooi te verteenwoordig.
• Lees ook: RAM se netbalsterre skitter
Adelle het vertel dat sy in 2015 as skeidsregter begin het en dadelik geweet het dat sy graag verder daarmee wil gaan.
Sy het die Netball South Africa Vlak 1-afrigtingskursus voltooi, sowel as Vlak 3 in skeidsregterteorie, en het haar Provinsiale C+-gradering verwerf. Van 28 Junie tot 2 Julie sal sy die fluitjie blaas by die All Ages-toernooi.
Ek is trots op wat ek bereik het en hoe vêr ek gekom het. Ek is opgewonde om te sien hoe vêr ek nog kan gaan.
“Dit het harde werk geverg om te kom waar ek vandag is. Ek het elke jaar gegradeer om my plek hier te verdien,” het Adelle gesê.
Sy het bygevoeg dat sy skeidsreg, omdat dit iets is waarvan sy hou en wat sy regtig geniet om te doen. Haar volgende mikpunt is om haar nasionale gradering te behaal en eendag as skeidsregter op te tree wanneer groot spanne soos die Proteas in aksie is.
Haar raad aan ander is om nooit moed op te gee nie:
“Gee altyd jou beste as skeidsregter en moenie luister na die kritiek langs die baan nie.”



