Sterk begin vir RandMark se wintertweekamp
Eerste byeenkoms van RandMark se jaarlikse tweekamp weereens 'n sukses – nog meer byeenkomste is oppad.
RandMark bied vanjaar weer hul gewilde tweekamp aan, en met die eerste byeenkoms suksesvol agter die rug, sien hulle uit na wat voorlê.
• Also read: RandMark sparks a love for running
Volgens Bruce Minnie, die tweekampverteenwoordiger, is dit ’n klubgeleentheid wat spesifiek in die kouer maande plaasvind.
“Daar is twee tot drie byeenkomste wat beide pad- en stofpadroetes insluit. Die afstande wissel van 5km hardloop, na 25km fietsry, en weer 5km hardloop,” verduidelik hy.
Die eerste byeenkoms van die jaar is op 17 Mei gehou op ’n plaas net buite die dorp. Hierdie roete het geheel en al uit stofpad bestaan en die byeenkoms was oop vir almal.
Die doel is om mense bloot te stel aan iets anders, en terselfdertyd ’n geleentheid te bied waar hardlopers en fietsryers saam kan deelneem,” sê Bruce.
“Met sowat 25 inskrywings vir hierdie rondte was daar duidelik baie belangstelling.”
Hy voeg by dat almal wat deelgeneem het, dit weer sou wou doen. Hulle beoog daarom om die tweekamp verder uit te brei met die tweede byeenkoms.
“Almal het hul bes gedoen en dit baie geniet,” sê hy.
Die volgende byeenkoms is tans in die beplanningsfase. Dit sal op teerpad plaasvind, terwyl die laaste byeenkoms ’n kombinasie van teer- en stofpad sal wees. Die plan is om die volgende geleentheid in die Wieg van die Mensdom aan te bied, waar daar veilige roetes is vir beide hardloop en fietsry. Die natuurlike terrein – berge en dale – sal vir ’n lekker uitdaging sorg.
“RandMark-lede spring in en help met die reël van die tweekamp.
Dis regtig lekker vir almal om deel te wees van só ’n byeenkoms,” sê Bruce.
“Van my kant af wil ek net baie dankie sê aan almal wat gehelp het met die voorbereiding, en aan diegene wat deelgeneem het. Vir dié wat gedink het dit is onmoontlik, het julle vir julleself bewys dat dit gedoen kán word,” sluit Bruce af.



