‘Almal is wenners’ by RAM Goudfees
Elke netbal- en rugbyspeler is 'n wenner by Laerskool Randfontein se onlangse Goudfees.
Laerskool Randfontein het onlangs hul jaarlikse Goudfees aangebied, waaraan verskeie skole van die Wes-Rand deelgeneem het.
• Lees ook: Goudfees vir die boeke
Volgens skoolwoordvoerder, Annie Nolan, is die Goudfees ‘n mini-netbal- en Welpie-rugbydag wat jaarliks plaasvind. Verskeie stalletjies het ook speelgoed, juweliersware, klere en eetgoed te koop aangebied. Dit was ’n geleentheid vir die hele familie om saam te kom en die leerders te ondersteun.

Die deelnemende skole was Laerskool Randfontein, Rapportryer, Fochville, Dagbreek, Westgold Primary, Dr Havinga, Horison, Bekker en Millennium.
“Dit was ’n groot sukses. Die dag het seepglad verloop en almal het heerlik saamgekuier,” het Annie gesê.
Mini-netbal en welpie-rugby gaan oor ontwikkeling, en daarom word daar nie telling gehou nie. As afrigters werk ons almal saam om ons maats vir die toekoms te ontwikkel.
“Ons is trots op elke maat wat deelneem aan so ’n dag – almal is wenners. Daarom het elkeen ’n sertifikaat en aansteekbalkie ontvang,” het sy bygevoeg.

Die skoolspan is reeds besig met voorbereidings vir die mini-hokkieseisoen, wat in die derde kwartaal afskop. Daarvoor beplan hulle ook ’n spesiale sportdag.
“Baie dankie aan al die skole en skoolhoofde wat ons jaarliks op hierdie dag ondersteun,” het Annie afgesluit.





