Local sportSport

Teine se Arende klop Alberton se Elande

Randfontein Rugbyklub se seniorspanne het gewys wat in hul steek en was almal aan die wenkant teen Alberton Rugbyklub. Die vrouespan het ook 'n oorwinning behaal.

Randfontein Rugbyklub se eerstespan is terug op die wenpad nadat hulle Alberton naelskraap met 25–24 geklop het in die Pirates Groot Uitdaagreeks.

• Lees ook: Lang dag op kantoor vir Teine teen Pukke

Beide spanne was duidelik honger vir ’n oorwinning, en Teine het graag trots probeer herwin ná ’n reeks nederlae teen studentespanne die afgelope paar weke. Gelukkig was dit Teine se dag – en soos hulle sê, ’n wen is ’n wen.

Driedrukkers vir Teine is aangeteken deur Johan Swart, Mornè Piater en Jacqone de Villiers. Franco Tiedt het een doelskop geslaag, terwyl Janco Tiedt ’n doelskop én ’n strafskop oorgesit het. Wessel van Staden is as Man van die Wedstryd aangewys.

Barend Steyn word geduik.
Ruan du Toit storm voort met twee verdedigers wat hom probeer keer.

Daar was ook groot afwagting vir die wedstryd tussen die tweede spanne, en Teine het net-net die oorhand gekry met ’n sege van 22–19. Christo van Emmenis, Frikkie Delport en Bandile Molema het elk een drie gedruk. Tiaan Naudé het twee doelskoppe én ’n strafskop by sy naam gevoeg. Christo van Emmenis is as Man van die Wedstryd aangewys.

Teine se derde span het die skare behoorlik laat juig met ’n oortuigende oorwinning van 35–7. Frikkie Willemse, Akhona Tsharane en Desire Serelepele het elk ’n drie gedruk, terwyl Simphiwe Khumalo met twee drieë uitgeblink het. Ewald Oberholzer het al vyf doelskoppe suksesvol oorgesit, en Quintin Korb is as Man van die Wedstryd aangewys.

Dylan Viviers en ‘n opponent hou hul oë op die bal.
‘n Beseerde speler ontvang die nodige aandag vanaf paramediese personeel.

Die juniors moes egter die onderspit delf.

Teine se o.19-span het met 20–12 vasgeval. Dylan Jacobs en Zac Smith het elk ’n drie gedruk, terwyl Zander Campher ’n doelskop geslaag het. Beide Sibusiso Pitso en Zac Smith is as Manne van die Wedstryd aangekondig.

Daarna het die o.21-span met 40–6 teen hul opponente die knie gebuig. Keagan Taylor het twee strafskoppe oorgesit – hul enigste punte van die wedstryd.

Die openingsrondte het die vrouespanne aan die opgewonde skare bekendgestel, en Teine se vrouespan het onmiddellik ’n groot impak gemaak met hul 19–5 sege oor die Elande. Rose-Anne Stewart, Jolene van Wyk en Bianca Raaths het elk ’n drie gedruk, terwyl Refilwe Mangope twee doelskoppe geslaag het. Beide Cazandra van Dyk en Refilwe Mangope is as Dames van die Wedstryd aangewys.

Randfontein se vrouespan kom Saterdag, 31 Mei, teen Raiders Rugbyklub te staan, terwyl die manne op 7 Junie teen Pirates Rugbyklub kragte sal meet.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Randfontein Herald in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button