Local sportSport

RandMark se Tiffany op haar merke en gereed vir Comrades

Tiffany van Loggerenberg neem Sondag aan haar eerste Comrades Marathon deel. Ná maande se harde werk en toewyding is sy gereed vir dié ikoniese uitdaging.

RandMark se Tiffany van Loggerenberg neem op Sondag, 8 Junie aan haar heel eerste Comrades Marathon deel – ’n uitdaging waarvoor sy al sedert Januarie voorberei.

• Lees ook: Tiffany staan sterk en voltooi Two Oceans

In ’n gesprek met die Randfontein Herald het Tiffany vertel sy volg ’n gestruktureerde oefenprogram wat spoedwerk, heuweloefening, langafstand- en tempolopies, asook kragoefeninge insluit. Sy stel elke week ’n kilometermikpunt om seker te maak haar liggaam is gereed vir die lang afstand.

Die doel is om konsekwent te wees en my liggaam geleidelik voor te berei. Dis nie net fisiek nie – jy moet ook psigies sterk wees. Ek beoog om die Comrades onder 11 uur te voltooi,” sê sy.

Vir Tiffany is dit belangrik om slim en strategies te hardloop, veral in die eerste helfte van die wedloop.

“Ek wil eerder terughou aan die begin sodat ek sterk kan eindig en die ervaring positief afsluit. My fokus is om verantwoordelik te hardloop, die dag te geniet en trots oor die eindstreep te gaan.”

Sy beskryf haar voorbereiding as veeleisend, maar lonend.

“Ek is ongelooflik opgewonde, maar ook effens bang – ’n gesonde soort vrees. Dis ’n groot uitdaging, maar ek voel gereed. Ek het hard gewerk en alles gegee in my voorbereiding.”

Die Comrades is vir haar ’n natuurlike volgende stap na haar deelname aan ’n vorige ultramarathon. Wat haar egter die meeste dryf, is die geestelike betekenis wat sy aan hardloop heg.

“Ek ervaar elke keer tydens ’n groot wedloop ’n diep ontmoeting met die Here. Wanneer ek oor die eindstreep gaan, weet ek dit was nie net my eie krag nie – dit is Hy wat my dra.”

Hoewel sy self nog nie ervaring het met die Comrades nie, het sy waardevolle raad van ervare deelnemers gevolg.

Die belangrikste is om nie te vinnig weg te spring nie, om strategies te hardloop en na jou liggaam te luister. Voeding en hidrasie is ook belangrik – dit gee jou die beste kans om sterk te eindig.”

Sy moedig ander aan om die sport te probeer.

“Hardloop is lewensveranderend. Dit leer jou van deursettingsvermoë, geduld, dankbaarheid en geloof. Meer as dit, is dit vir my ’n geestelike reis. Ek glo elke tree is ’n geleentheid om God te ervaar – in die stilte, die pyn en die oorwinning. Dis nie net ’n sport nie; dis ’n pad van groei, genesing en genade.”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Randfontein Herald in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button