Teine se Arende oorrompel deur Wolwe
Al Teine se vyf mans-spanne het vir Diggers ore aangesit maar ongelukkig het die vrouespan teen die Wolwe vasgeval.
Randfontein Rugbyklub se vrouespan is onlangs oortuigend met ‘n telling van 45–12 deur Alexandra Wolves verslaan.
• Lees ook: Pirates klop Teine tydens langverwagte wedstryd
Teine se Winnie Masokoane en Amahle Mayongo het elk een drie gedruk terwyl Refilwe Mangope met slegs een doelskop kon slaag.

Wat die mans aanbetref het dit goedgegaan en was al vyf Teine-spanne aan die wenkant teen Diggers Rugbyklub as opponent. Die kragmetings, wat op Diggers se tuisgronde plaasgevind het, het beloof om ‘n ware toets vir beide spanne se uithouvermoë te wees maar Teine het beslis nie teleurgestel nie.
Teine se o19’s het vir die eerste oorwinning gesorg met ‘n naelskraapse oorwinning van 33–31. AJ Wray, Sibusiso Pitso, Vuyolwethu Gwenxane, Nhlanhla Sibisi en Anele Phungula het elk een drie gedruk. Zac Smith het vier doelskoppe verwerf. Hy asook Vuyolwethu Gwenxane is beide as Manne van die Wedstryd aangewys.
Vir Randfontein se o21’s was dit ook benoude boude maar tog deurgedruk vir ‘n 36–33 sege. Simfumene Zulu, Oarabile Tlhatlhedi, Wesley Nyariya asook Lisakhanya Kiviet het elk een drie gedruk en Thabang Ndlovu twee. Keagan Taylor het verder drie doelskoppe aangeteken. Oarabile Tlhatlhedi het weggeloop met die titel Man van die Wedstryd.

Teine se derdespan het toe hul stempel afgedruk met ‘n oortuigende sege van 61–6. Frikkie Willemse, Devan Viljoen, Tiaan Beyleveld, Lelethu Nyabaza, Jannie Schultz, Corrie Vrey en Anele Dambula het almal een drie gedruk en Eugene Willemse twee. Ewald Oberholzer het in totaal met ses doelskoppe geslaag en Vincenzo Visagie met twee doelskoppe.
Die tweedespan was ook dominerend en het 36–12 geseëvier. Wian Botes en Heinrich Albrecht het elk een drie gedruk maar Steff Calitz en Frikkie Delport spog elk met twee drieë. Tiaan Naudè het dan drie doelskoppe oorgesit. Gesamentlike Man van die Wedstryd was Steff Calitz en Sims Ngcutha.
Om af te sluit het Teine se eerstespan op ‘n drafstap vir Diggers met 48–12 slae gegee. Tristan Dulliseur het twee drieë gedruk waar Franco Tiedt, Rudi Marx, Renaldo Visser, Riaan de Jager, Christo van Emmenis en Ruan du Toit elk met een drie bygedra het. Janco Tiedt het vier van sy doelskoppe oorgesit. Franco Schutte is Man van die Wedstryd.
Die volgende wedstryd sal plaasvind in Randfontein teen Raiders Rugbyklub op 12 Julie.



