Klein speler, maar groot potspeldrome
Marnus Vermeulen droom daarvan om Gauteng in die nasionale potspelkampioenskappe te verteenwoordig, maar hy benodig die gemeenskap se hulp om dit 'n werklikheid te maak.
Marnu Vermeulen (11) het sy opgewondenheid gedeel nadat hy vir die Wes-Rand Gauteng potspelspan se o.14-kategorie gekies is, maar hy het fondse nodig om sy drome te verwesenlik.
• Lees ook: Alle oë op potspel
Hy is trots daarop om die enigste Randfontein-inwoner in die span te wees. Van 12 tot 19 Julie sal hy aan die Juniors 8-Bal Pool Nasionale Kampioenskappe deelneem, waar hy teen verskeie provinsiale spelers te staan sal kom. Gedurende die sewe dae sal hy aan sowat 50 wedstryde deelneem.
Marnu speel reeds die afgelope drie maande kompeterend en glo hy is goed voorberei vir die komende kampioenskap.

Sy gunstelingdeel van potspel is om die swart bal te sink en die wen huis toe te bring. Hy droom daarvan om eendag ’n Suid-Afrikaanse speler te word.
Hy het ook raad aan ander jong spelers gedeel.
Jy sal beter raak as jy genoeg en hard oefen. Jy moet net nie moed opgee nie. Dit voel verskriklik lekker om hierdie mylpaal te bereik, en ek is baie trots op myself,” het hy gesê.
Alhoewel Marnu opgewonde is oor die toernooi, vertel sy ma, Cheryl, dat potspel as ’n amateursport gesien word, en dus moet hy self die nodige fondse insamel. Die beraamde bedrag per spanlid is ongeveer R7 500. Dit dek verblyf, span- en enkelinskrywings, vervoer, kos en klere.
Marnu se ma doen ’n beroep op die gemeenskap om te help om haar seun se droom te bewaarheid. Enigiemand wat ’n bydra wil maak, kan haar by 072 409 2146 kontak.




