RAM-skuts tref teiken
Met twee skuts in die Interprovinsiale span en die RAMkat-span op pad na die Nasionale Interskole Kampioenskappe, het Laerskool Randfontein baie om op trots te wees.
Laerskool Randfontein spog met twee boogskutters wat die Interprovinsiale span gehaal het.
• Lees ook: RAM se afrigter skiet kolskoot in Namibië
“Laerskool Randfontein se boogskietskuts mik hoog en skiet akkuraat. Na ’n vol jaar van minimum twee kompetisies per maand en twee weeklikse oefeninge het ons by die hoogtepunt van die boogskietseisoen gekom,” het Annie Nolan, boogskietafrigter en skoolwoordvoerder gesê.
Sy het verduidelik dat die Interprovinsiale span uit slegs 16 skuts uit die hele provinsie bestaan, en twee van daardie skuts is RAM-leerders Nastia Botes in graad 6 en Kiesha Cunha in graad 4.

Die RAMkat-boogskietspan het ook uitstekende prestasies behaal. Tydens die provinsiale kompetisie by Laerskool Elspark het hulle tweede plek behaal.
Die span het besonders goed gedoen en ek is baie trots op my skuts en hul prestasies,” het Annie gesê.
Die RAMkat-skuts het ook vir die Nasionale Interskole Kampioenskappe gekwalifiseer, wat in Oktober in Polokwane plaasvind. Annie het genoem dat 1 250 skuts van regoor Suid-Afrika vir die kampioenskappe ingeskryf het, insluitend hoërskoolleerders en volwassenes.
“Afrigters en skuts is baie opgewonde vir die toer en kan nie wag vir ’n onvergeetlike avontuur nie,” het Annie afgesluit.



