Hy sing met ‘n nagtegaalstem
Met ‘n stem soos ‘n nagtegaal, sing Dominee Tjaart Venter tot uitbreiding van God se koningkryk.
Van kleins af het Tjaart ‘n groot liefde vir musiek en sang gehad. Toe hy die bediening in 1980 betree, het hy ook in die kerk begin sing. Van daar af beskou hy sy talent as deel van sy bediening wat hy tot eer van God doen.
“Sang het ‘n groter deel van my lewe en bediening geword toe die vorige matrone van Vriendskapstuiste, Shiela Fourie, my in die laat 1990’s genader het om deel van ‘n Christelike sangfees, wat by Vriendskapstuiste gehou was, te vorm,” vertel Tjaart.
Dit is waar hy begin het om sy talente as sanger te ontgin.
Verskeie mense het al by optredes vir Tjaart gevra of hy ‘n CD op die mark het. Aangesien hy op daardie stadium nie ‘n CD beskikbaar gehad het nie, het hy dadelik besluit om aan ‘n album te begin werk en dit vry te stel.
“Ek het vir byna twee jaar aan die CD gewerk en dit gedurende Augustus 2010 is die album vrygestel,” vertel Tjaart trots.
Sy geliefkoosde genres is klasieke musiek, opera en operette. Volgens Tjaart is dit ook die tiepe musiek wat mense op sy CD kan geniet. Hy doen ook graag liefdadigheidskonserte en reël ook van tyd tot tyd sy eie konserte on fondse vir kerke en behoeftiges in te samel.
“Sang is vir my terapeuties en ek kan myself daarin uitleef. It is ook vir my ‘n voorreg om my Godgegewe talente te beoefen en te benut,” vertel Tjaart.
Vir meer inligting of om hom te bespreek om jou funksie met wonderlike sang te vul, skakel vir Tjaart by 011 693 3964.



