Maak gereed vir Randfontein se Gouefees!
Randfontein se splinternuwe Gouefees beloof musiek, vermaak, kos en aksie vir die hele familie – kom vier saam die goue gees van ons dorp!
Die Randfontein Publisiteitsvereniging (RPV) en die organiseerders van die 2026 Randfontein Gouefees het onlangs ’n voorsmakie gegee van wat inwoners kan verwag wanneer die dorp se splinternuwe fees op 27 Februarie afskop.
“Maak jou gereed vir pure goud!” het Matiam van Vuuren, ’n lid van die RPV, gesê.
Die RPV bied met trots die eerste Randfontein Gouefees aan – ’n splinternuwe fees wat die ryk goudmyn-erfenis (sedert 1889) vier en die hart van die gemeenskap laat klop.
Van Vrydag, 27 Februarie tot Sondag, 1 Maart word Above All Functions in Lazarweg, Ooster AH, Randfontein, omskep in ’n glinsterende feesterrein vol musiek, pret, kos, stalletjies en aksie vir die hele gesin.

Hoogtepunte om na uit te sien
Een van die groot trekpleisters is die KWV-verhoog binne die Gouefees-markies. Kunstenaars wat gaan optree sluit in Steve Hofmeyr, Bernice West, Dodo, Chris Steyn, Franna Benade, Ghapi, Appel, Eloff, Heuning, Droomsindroom en Lunae Lane. Vir die jongspan is Bee Bee die By ook op die program. Tanya V sal as seremoniemeester optree.

Die fees skop Vrydag af met die gewilde pom-pomkompetisie vir hoërskole. Pretoria FM sal Vrydag en Saterdag regstreeks vanaf die terrein uitsaai. Op Saterdag, 28 Februarie om 14:00 kan besoekers uitsien na rofstoei-aksie.
Daar sal deurentyd vermaak wees, insluitend biertuine, ’n pretpark, kosstalletjies, kameelritte en rugby op ’n grootskerm. Die Coca-Cola uitsaai-verhoog, uitstallings van die nuutste voertuie op die mark en verskeie stalletjies sal ook deel vorm van die fees.

’n Trou- en matriek-ekspo bied geleentheid vir dié wat groot planne maak. By die Makiti-stalletjie kan besoekers selfs ’n troue wen, terwyl modevertonings en uitstallers gereed staan om met beplanning te help.
Pret vir die hele gesin
Die Kidzone bied dan ’n warm en veilige omgewing vir kinders, met springkastele, ’n bungee-trampolien, meganiese bul, ponieritte, “Shooting Tunnel”, Giant Slide, “Inflatable Rocket”, mobiele petroltrein, gesigverf en nog vele meer.

Tye en toegangsfooie
Die fees vind plaas:
• Vrydag en Saterdag vanaf 08:00 tot 23:00
• Sondag vanaf 08:00 tot 16:00
Toegangspryse by die hek is:
• Volwassenes: R120 (Vrydag) en R150 (Saterdag en Sondag)
• Kinders (ses tot 12 jaar): R50
• Kleuters (onder ses): Gratis
• Senior burgers (60+): R80 (ID moet gewys word)


Volgens Matiam geld ’n spesiale aanbieding tot Donderdag, 26 Februarie. Volwasse kaartjies is nou beskikbaar teen R120 per persoon by Computicket of by uitlaatpunte in die dorp (sien www.gouefees.co.za).
“Dit gee besoekers die kans om toue te vermy en te bespaar. Parkering is binne en buite die terrein beskikbaar teen R30 per voertuig [kontant of kaart],” sê hy.
Matiam het bygevoeg dat geen eie drank of glashouers toegelaat word nie.
“Alkohol sal slegs in aangewese areas [18 en ouer] verkoop word. Noodhulp en sekuriteit sal op die terrein beskikbaar wees, en kaartfasiliteite is oral op die terrein beskikbaar, veral by die hekke en biertuine,” het Matiam bygevoeg.
Die volledige program is beskikbaar by www.gouefees.co.za.
Vir meer inligting kan die Randfontein Gouefees-kantoor geskakel word by 074 579 6782 of ’n e-pos gestuur word na maggie@rpainfo.co.za.
“Kom vier saam – of dit nou vir die musiek, die sport, die kos of net die kuier is. Die Gouefees beloof om herinneringe te skep wat goud werd is,” het Matiam afgesluit.








