Local sportSport

Hoërskool Centurion wen tweede derby van die seisoen

Drie van Centurion se skole het die afgelope naweek weer groot sukses behaal in die VirSeker Beker toernooi.

Die eerste rugbyspanne van Hoërskool Centurion en Hoërskool Eldoraigne lyk na twee vroeë gunstelinge in die Makroskole se B-afdeling van die VirSeker Beker toernooi, nadat albei die afgelope naweek weer goeie oorwinnings behaal het.

* Centurion het hul bestendige seisoen voorgesit deur hul tweede Centurion-derby van die seisoen teen Zwartkop maklik met 30-5 te wen. Dié span het twee weke gelede hul ander aartsvyand, Eldoraigne, ook gewen. Die telling in daardie wedstryd was 30-3 in Centurion se guns. Dit gee aan Centurion dus die onbetwyfelbare spogregte om te verklaar dat hulle vanjaar oor die beste eerstespan in die suide van Pretoria beskik.

Centurion het vyf drieë gedruk teen Zwartkop, terwyl laasgenoemde slegs een keer die doellyn kon haal.

Eersomende naweek behoort Centurion hul posisie verder te verstewig wanneer hulle die sukkelende HTS John Vorster pak.

* Eldoraigne het gewys dat hulle twee weke gelede se nederlaag teen Centurion verwerk het en dat hulle steeds ’n kandidaat is om die B-afdeling vir Makroskole te wen toe hulle HTS John Vorster met 93-0 vermorsel het.

Die wedstryd sou beslis ’n honderdtal opgelewer het as die skeidsregter nie die manne van HTS John Vorster genadig was deur die eindfluitjie byna ’n kwartier te vroeg te blaas nie.

Daarbenewens het Eldoraigne se skoppers slegs nege van die 13 drieë verdoel, wat ’n verdere moontlike agt punte verlore laat gaan het. Marvin Petersen van Eldoraigne het drie keer agter die doellyn gaan kuier.

Eldoraigne reis eerskomende naweek na die Moot om Wonderboom op hul tuisveld te pak.

* In die afdeling vir Groot Skole het Midstream Kollege hul segetog voortgesit deur Hoërskool Tuine met 37-5 pakslae te gee.

Midstream het hulle nou gevestig as ’n realistiese kandidaat om die Stadsbeker te wen en hul tweestryd met Oos-Moot sal eerskomende naweek ’n goeie aanduideing wees van hul kanse in dié liga. Oos-Moot het die Stadsbeker vir Groot Skole die afgelope twee jaar ingepalm.

 

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na [email protected] of skakel ons by 072 435 7717.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Koos Venter

Koos Venter is an experienced journalist who started his career 35 years ago, before the days of cellphones, modern computer systems, the internet and digital cameras, as a correspondent for Nexus, the former national magazine of the Department of Correctional Services. He has since worked for various other publications in all aspects of news coverage, as a columnist and in the production side of newspapers and online publications. Since 2007 he has specialized as a sports writer, while he is also regularly used as an analyst and commentator by several radio stations.
Back to top button