EntertainmentLifestyle

VIDEO: Vuil Wasgoed se Centurion-ster praat met Rekord

28-jarige Simone Nortmann is 'n fantastiese talent van Centurion wat groot naam maak in die Suid-Afrikaanse filmbedryf. Rekord gesels met haar oor haar toekomsplanne.

 

Vuil Wasgoed is ’n splinternuwe, eg-in-sy-soort Afrikaanse film wat op 8 Desember 2017 in Suid-Afrikaanse fliek teaters te siene sal wees.

Dit handel oor Wim en Kevin wat al jare lank droom om hul eie koffiewinkel te hê. Terwyl hulle wag om dié droom te bewaarheid, werk hulle tydelik in ’n klerewassery. Die probleem is dat ‘tydelik’ sewe jaar geword het en dat die hoogtepunt van hulle bestaan steeds die leen van hulle kliënte se klere is om snags partytjies te “crash”.

Wanneer Wim en Kevin partytjie toe gaan een aand in hul wassery-kliënte se klere, ontdek hulle ’n afgekapte vinger waarna ’n klomp gevaarlike mense op soek is.

Die beeldskone talent Simone Nortmann wat in Centurion skoolgegaan het, vertolk die rol van Nikki, geliefde van Kevin, wat vertolk word deur Bennie Fourie.

Rekord het met Nortmann gepraat oor haar onlangse ervarings in die bedryf en haar planne as aktrise in die toekoms.

Nortmann het nog altyd geweet sy wil ’n aktrise wees, al maak oudisies haar nog lam van spanning.

LEES OOK: Centurion-gemeenskapsteater herdenk Reformasie

“Ek wou nog altyd aktrise wees en stories vertel, maar ek het nooit gedink dat daardie droom waar sou word nie. Ek wou terselfdertyd ’n dominee word, so my drome het meer in die filmbedryf-rigting beweeg,” vertel sy.

“Tog is ek glad nie lief vir oudisies nie, en vandag nog moet ek myself motiveer om myself daarbuite te sit. Dit vat soveel ‘guts’ en selfvertroue om jou eie skoene vol te staan in hierdie bedryf, maar ek het meer oor myself geleer en seker meer gegroei die afgelope vyf jaar as in my lewe.”

Na die ongelooflike sukses van Vir die Voëls, wou ons weet hoekom Nortmann by ’n projek soos Vuil Wasgoed betrokke geraak het.

“Bouwer en Bennie het my in 2014 genader om in Vuil Wasgoed se kortfilm te speel wat hulle sou skiet vir die Silwerskermfees. Bennie het genoem dat my karakter baie aard na Jess in New Girl en hy het beskrywings soos ‘awkward’ en ‘quirky’ gebruik. Ek kon nie nee sê nie. Die storie was ‘tight’ gewees en die komedie droog en donker. Dít het my aandag getrek,” verduidelik sy.

Oor Nico Panagio het die blondine baie te sê. Hy is immers talentvol, aantreklik, kundig in die filmbedryf en en en…

“Nico is so ’n aangename mens. Die paar ure wat ons saam op stel was het ek hom baie geniet; hy is gedurig grappig. Ek sal mense aanmoedig om Vuil Wasgoed te sien juis omdat hy daarin is, en dan natuurlik omdat die film vars is, en so iets is nog nooit gedoen nie,” sê sy verder.

Om Vir die Voëls te kon verteenwoordig by internasionale filmfeeste was vir Nortmann ’n skynbare hoogtepunt in haar loopbaan tot dusver. Sy verduidelik dat dié film ook naby aan haar hart lê, juis omdat sy soveel met haar karakter kon identifiseer.

LEES OOK: Agter die skerms met Nastassja Jooste

“Ek identifiseer verseker met Irma in Vir die Voëls die meeste. Ek kon met haar seer en onafhanklikheid identifiseer.”

Om lang ure aan ’n film soos Vuil Wasgoed te werk is geen grap nie. Dis nie te praat van al die promosie-werk wat agter die skerms moet gedoen word nie.

“Die gehoor se ontvangs van die film is altyd die lekkerste. Om die gehoor se reaksie te kon ervaar by die Silwerskermfees was ’n hoogtepunt [in my loopbaan] omdat hulle vir dinge gelag het waarvan ek al vergeet het. Om die storie saam met mense te kyk, is altyd so belowend. Jy onthou skielik waarvoor al die bloed en sweet was.”

Nortmann sit nie vir lank stil nie, sy is besig om vir haar volgende werkwinkel in Desember voor te berei en sien ook baie uit na haar eenmanvertoning wat by Atterburyteater te siene sal wees.

“Ek is besig om voor te berei vir my volgende toneelspel-werkwinkel wat die naweek van 1-3 Desember vanjaar plaasvind en om datums vas te maak vir volgende jaar se werkswinkels. Dan begin ek vroeg volgende jaar repeteer aan my eenmanvertoning, Los asb ’n boodskap wat Atterburyteater toe gaan in Februarie. Dan begin ek ook in Februarie te verfilm aan Stroomop, Donnalee Roberts en Ivan de Jager se nuutste projek wat in Augustus vrygestel word,” brei sy uit.

LEES OOK: Sanger bou eie dorpie vir musiekvideo

As by vakkansie kom, is Nortmann baie tradisioneel en verduidelik dat sy wil feesvier saam met haar geliefdes.

“Ek vier gewoonlik saam met my familie Kerstyd. My nuwejaarsvoorneme is om aan my padwoede te werk, en my toneelspel vaardighede verder te slyp.”

Nortmann is nie net ’n pragtige gesig en geweldige talent van Centurion nie, sy het ambisies om haar eie draaiboek te skryf, sy wil graag troue en kinders aanneem en hoop om binnekort die wêreld te sien en om eiendom op haar naam te hê.

“Maar nie noodwendig in daardie volgorde nie,”sluit sy af.

Vuil Wasgoed sal op 8 Desember 2017 in teaters verskyn:

 

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na [email protected] of skakel ons by 083 625 4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:

Rekord Oos

Rekord Noord

Rekord Centurion

Rekord Moot

Besoek ook ons FacebookTwitter en Instagram blaaie.

 

 

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button