Laerskool Lynnwood gereed vir 2022
Op julle merke, gereed…GAAN! Laerskool Lynnwood was verseker gereed vir die eerste skoolweek van 2022.

Lynnies het weggespring op die eerste dag met graad eentjies wat hul eerste skooldag met breë haasbekglimlagte verwelkom het.
Terwyl die ouers hul trane wegsteek agter hul maskers, het uitvoerende hoof, mnr. Steve Stolk, oud en jonk vermaak met sy Nugget-storie en interessante en snaakse kouse.
Die tweede dag was ’n groot sirkus. Graad RRR – 7 Lynnies het hul narpakke en sirkusbykomstighede aangetrek om die hoof se verjaarsdag, van 6 Januarie, te vier!
Tydens die laaste dag van die eerste week het Lynnies die geleentheid gekry om die wenstreep te kruis tydens die Interhuis Atletiekbyeenkoms.

Graad 1 – 7 leerders kon aan verskeie items deelneem wat as uitdunne vir die atletiekseisoen gedien het.
Tussen al die pretaktiwiteite is ons Lynnies ook uitgerus en slaggereed om volstoom die nuwe akademiese uitdagings kaf te draf.
