News

Streektoer wys die hart van welsynswerk

Van groentetuine en breinoefeninge tot kinderontwikkeling en ondersteuning aan bejaardes, Solidariteit Helpende Hand se streektoer het vrywilligers en skenkers eerstehands blootgestel aan die organisasie se gemeenskapswerk en die verskil wat toegewyde diens in Pretoria se gemeenskappe maak.

Verteenwoordigers van organisasies regoor Pretoria het onlangs aan ’n streektoer deelgeneem om eerstehands kennis te maak met die gemeenskapsprojekte en welsynswerk wat deur Solidariteit Helpende Hand ondersteun word.

Die toer het deelnemers die geleentheid gebied om die organisasie se verskeie sentrums, skole en gemeenskapsinisiatiewe te besoek en beter te verstaan hoe vrywilligers, skenkers en vennote ’n verskil maak in die lewe van kinders, bejaardes en gesinne in nood.

Die streektoer het besoeke aan Ons Sentrum in Pretoria-Noord, die Ons Sentrum Terapiesentrum, Gracia Kinderhuis, die Silwerkroon-sentrum, Laerskool Pierneef, die Uitkoms-sentrum en Ons Plek in Derdepoort, asook Ons Winkel in Annlin ingesluit.

Tydens die dag het die groep ook deel geword rondom die vermaak deur werknemers van Helpende Hand wat meer van hul Seniors in Aksie-program vertel het en bejaardes vrolik op bekende Afrikaanse treffers soos Baby Tjoklits, Suikerbossie, Ver in die Ou Kalahari en Bloutrein laat dans het.

Francois Botha van GROOTfm 90.5 was een van die vrywilligers wat saam met die span van Solidaritiet Helpende Hand na organisasies waar Helpende Hand programme en projekte aanbied, soos Silwerkroon-ouetehuis, gereis het en van die programme aangebied het. Foto: Elize Parker

Helpende Hand het meer as 60 gereelde vrywilligers in Pretoria wat sulke projekte by sentrums aanpak en die organisasie se 14 takke se uitreike steun.

Volgens Bianca Oosthuizen, welsynswerker by Helpende Hand, was die doel van die toer om vrywilligers en skenkers bloot te stel aan die projekte waar hulle betrokkenheid en bydraes ’n daadwerklike verskil maak.

Oosthuizen het meer vertel oor die Seniors in Aksie-program, ’n 20-week-program wat daarop gemik is om senior burgers se brein aktief te hou en hulle te ondersteun om so lank moontlik onafhanklik te leef.

“Daar is elke week ’n sessie waar bejaardes in groepies van sewe tot tien deelnemers bewegingsoefeninge doen, onder meer dansbewegings. Hulle sintuie word ook geprikkel deur aktiwiteite soos reukoefeninge. Alles is daarop gemik om hulle helder, wakker en aktief te hou,” sê Oosthuizen.

By Huis Silwerkroon in die Moot het die reukoefeninge besondere herinneringe by inwoners wakker gemaak. Die geure van polisiekoffie, roosmaryn en kaneel het stories ontlok oor Sondagmiddagetes saam met familie en melkkos wat oor geslagte heen geniet is.

Hannah van der Schyff, vrywilliger, en Mariana Kriel, streeksbestuurder van Solidariteit Helpende Hand Foto: Elize Parker

Mariana Kriel, streeksbestuurder, sê eensaamheid is een van die grootste uitdagings waarmee baie bejaardes en kwesbare groepe van die ander sentrums daagliks mee worstel.

“Daar is baie eensaamheid onder bejaardes en ons wil hiermee help. Daar is ook dikwels werklike nood soos om nie hul geld te kan strek vir kos tot aan die einde van die maand nie en dan kan ons met kospakkies help. Ons wil ook met projekte soos hierdie dag vrywilligers wys waar hulle dalk kan help. Ons wil graag hê dat skenkers ook betrokke raak by projekte waar hul fondse reeds ingespan word,” sê Kriel.

Hannah van der Schyff van Pretoria-Noord is ’n afgetredene wat ongeveer twee keer per week as Helpende Hand-vrywilliger by aftreeoorde help. Sy is veral passievol oor die vestiging van groentetuine sodat bejaardes meer selfversorgend kan wees. Sy help ook op oefendae wanneer inwoners aan bewegings- en oefenprogramme deelneem.

Nadine Kruger van die organisasie, Be kind, wil graag betrokke raak by die vestiging van groentetuine. Foto: Elize Parker

Nadine Kruger het die organisasie Be Kind tydens die toer verteenwoordig, wat deur middel van ’n platform skenkers en mense in nood bymekaar bring.

Kruger sê Be Kind stel belang om by inisiatiewe betrokke te raak wat nood in gemeenskappe aanspreek en dat die organisasie die platform wat deur Brand IQ beskikbaar gestel word daarvoor wil benut. Sy het veral belangstelling getoon in die vestiging van groentetuine en geesdriftig met rolspelers oor dié projekte gesels.

By Laerskool Pierneef het leerders kennis gemaak met die gelukbringer Braaf. Onder leiding van Karmien Buys, jeugorganiseerder by Helpende Hand, is die leerders geleer hoe om hulself soos Braaf dapper te handhaaf in situasies waar hulle geboelie of geviktimiseer word.

By Ons Winkel in Annlin kon die groep selfs inkopies doen en die winkel se werksaamhede ervaar. Boeke teen slegs R25 was besonder gewild en is vinnig opgeraap.

Een van die eenhede by Silwerkroon-ouetehuis. Foto: Elize Parker

Nog ’n hoogtepunt van die toer was die besoek aan die Derdepoort-sentrum, waar daar ná skool na leerders van Eastlynne en Jan Niemandpark omgesien word. Die groep is op ’n toer van die sentrum geneem en het meer te wete gekom oor die simpatieke ondersteuning wat daagliks aan die kinders gebied word sowel as die hulp met akademiese werk en skoolopdragte.

Volgens die organiseerders het die streektoer nie net die omvang van Helpende Hand se werk onder die aandag gebring nie, maar ook nuwe geleenthede geskep vir vrywilligers, skenkers en vennote om betrokke te raak by projekte wat ’n tasbare verskil in gemeenskappe maak.

– Kliek hier om ’n snit uit die die Seniors-in-Aksie-program te sien:

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? 

Stuur gerus vir ons ‘n epos na  [email protected] of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok en WhatsApp Channel

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Elize Parker

Elize Parker is a senior journalist with more than 25 years of experience covering especially environmental, municipal and profile articles. She writes investigative reports, profiles, social articles and consumer related articles and also does photographs and multimedia to go with these. Previously she worked as a news editor for a radio station, news reader, a magazine journalist with women’s magazines and as a column writer.
Back to top button