Bok beleef nuwe kreatiewe loopbaanfase
Bok van Blerk stap ’n nuwe fase in sy loopbaan binne ná ’n suksesvolle musiekblyspel by die AfriForum Teater. Die produksie het nuwe energie en toekomstige planne vir musiek, internasionale optredes en kreatiewe projekte by die sanger en akteur laat vorm kry.
Bok van Blerk bevind hom tans in ’n nuwe en beduidende fase van sy loopbaan ná die sukses van ’n verlengde speelvak van die gewilde musiekblyspel, Ons vir Jou, by die AfriForum Teater.
Die produksie, wat vanaf 29 April tot 21 Junie aangebied word, het reeds buitengewone belangstelling onder gehore ontlok.
Van Blerk sê die ervaring om weer op die verhoog in ’n blyspel te wees, bring nie net ’n nostalgiese terugblik op die bekendstelling 18 jaar gelede van die blyspel nie, maar ook nuwe energie en rigting vir sy werk vorentoe.
Die produksie ondersoek opnuut die temas van oorlog, opoffering en identiteit en maak liedjies soos die gewilde De la Rey van Van Blerk weer relevant vir hedendaagse gehore.
Van Blerk sê die feit dat die produksie saamval met die gewilde liedjie se 20ste herdenkingsjaar is nie noodwendig beplan nie, maar voel tog betekenisvol.
Hy verduidelik: “Ek dink nie ons het die besluit gemaak om die blyspel te doen in die jaar van die liedjie se 20-jaar herdenking nie. Dit het toevallig op dieselfde tyd geval. Die musiekblyspel was 18 jaar gelede op die planke by die Staatsteater, en dit was twee jaar na die liedjie bekend geword het.”
Wanneer hy terugkyk oor die afgelope twee dekades in die musiekbedryf, erken hy dat talle persoonlike en professionele veranderinge hom gevorm en verander het.
“Hoe het ek verander in 20 jaar? Omtrent ’n vraag. Ek is bietjie gryser en dalk wyser, rustiger en meer filosofies oor alles wat verander het. Ek is nou getroud en het drie kinders. So ja, baie dinge het verander,” sê hy.
Van Blerk se loopbaan het hom na verskeie plekke in Suid-Afrika geneem en sy persoonlike ontwikkelingsreis weerspieël ook hierdie beweging.
Hy vertel dat hy in Pretoria gebore en grootgeword het, in Laerskool Menlopark en Hoërskool Die Wilgers was, later op ’n plaas in Donkerhoek gewoon het, en ook vir vier en ’n half jaar in Ballito gewoon het. Deesdae woon die Van Blerk-gesin op Stellenbosch.
Hy sê die verskuiwings was deels prakties, maar ook gekoppel aan gesins- en opvoedkundige behoeftes.
Hy glo die uitdagings van ’n verhoogloopbaan het oor tyd verander.
Waar hy vroeër baie meer konserte per jaar gedoen het, is die balans nou anders.
“In 2006 en 2007 het ons meer as 200 shows per jaar gedoen. Nou sou ek dit nie meer kon volhou nie,” lag hy.
Hy erken dat hy ook nie ’n gesin sou kon hê as die skedule dieselfde gebly het nie.
Hy is eerlik oor die spanning tussen ’n musikant se toerlewe en sy gesinslewe: “Dit bly lekker, maar ek moet sê dit is moeilik om van die huis weg te wees en kinders se groot oomblikke soos ’n rugbywedstryd en belangrike oomblikke te mis. Dit is nie altyd so lekker soos vroeër nie.”

Foto:Elize Parker
Tog sê hy dat hy nou ’n ander waardering het vir verhoogwerk soos ’n blyspel en die betekenis daarvan.
“Twintig jaar terug het ek en my vriende in ’n bussie geklim om op ’n fees te gaan speel en het ’n paar biere na die tyd gaan drink. Nou drink ons warm sjokolade met ons gesinne en daarna gaan ek bed toe. Dis die verskil tussen om 28 jaar en 48 jaar oud te wees.”
Hy glo die produksie van Ons vir Jou het hom nuwe energie gegee. Hy voel gemotiveerd en sien dit as ’n kreatiewe herbegin.
Hy werk ook tans aan nuwe musiek en sê daar is planne vir ’n nuwe liedjie wat op 10 Julie vrygestel word.
Hy beskryf die liedjie as positief en opbouend, en sê daar is ook ander idees aan die ontwikkel, insluitend konsepte vir volgende jaar se Rugbywêreldbeker.
Sy toekomstige planne sluit ook internasionale optredes in Oktober en November in Europa, insluitend België, Nederland en Londen, in.
Benewens sy eie musiek en die onlange musiekblyspel is daar ook skool- en gemeenskapsprojekte in Pretoria waarby hy en sy vrou betrokke is.
’n Spesiale produksie met Hoërskool Die Wilgers in Pretoria in Julie beklemtoon sy verbintenis tot opvoeding en die gemeenskap.
Sy eggenoot, Hanna, is die stigter en dryfkrag van die organisasie The Hanna Charity and Empowerment Foundation, ’n liefdadigheidsorganisasie wat hoofsaaklik in die Pretoria-gebied werksaam is in gemeenskappe soos Danville en Elandspoort.
“Ek het so ’n rukkie terug vir die Here gevra om vir my nuwe uitdagings te stuur, en hierdie verhoogproduksie het oor my pad gekom. Ek is dankbaar. Dit het my ’n nuwe lus gegee om skeppend te wees.”

– Bok van Blerk en die Hoërskool Die Wilgers se vertoning van Van Ons, Vir Ons, word op 23 Julie om 19:00 by die Fairtree Atterbury Theatre aangebied.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie?
Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok en WhatsApp Channel
