Toerisme-uitblinkers haal finaal van Tshwane Toerismetoekennings
Van bekende hotelle, restaurante en toeroperateurs tot toeriste-aantreklikhede, opleidingsinstellings en gidse ding mee om top-eerbewyse. Die toekennings vier uitnemendheid in die bedryf en val saam met die Tshwane Toerismevereniging se 25ste bestaansjaar.
Talle van Pretoria se beste toerismeondernemings is as finaliste vir die 2026 Tshwane Toerismetoekennings aangewys nadat inskrywings vir vanjaar se kompetisie amptelik gesluit het.
Die Tshwane Toerismevereniging het aangekondig dat finaliste reeds in kennis gestel is nadat vanjaar se toekennings volgens die vereniging ’n uitsonderlike gehalte van inskrywings uit die stad se toerismesektor gelok het.
Die aankondiging val saam met die vereniging se 25ste bestaansjaar wat onder die tema ‘25 Years of Welcoming the World to the Capital’ gevier word.
Susan Marais, voorsitter van die Tshwane Toerismevereniging, sê die gehalte van die inskrywings weerspieël die passie, innovasie en uitnemendheid wat die hoofstad as toerismebestemming onderskei.
“Ons is ongelooflik opgewonde oor die gehalte van die inskrywings wat ons vanjaar ontvang het. Die finaliste verteenwoordig van die heel beste wat ons stad bied, van verblyfondernemings en restaurante tot toeroperateurs, besienswaardighede, opleidingsinstellings en verskaffers aan die bedryf.”
Sy sê toerisme se fokus is uiteindelik mense en nogmaals mense. “Agter elke finalis staan ’n span toegewyde mense wat besoekers verwelkom, ervarings skep en bydra tot die groei van ons stad. Die beoordelingsproses gaan uiters mededingend wees.”

Die toekennings is daarop gemik om uitnemendheid en beste praktyke binne die toerismebedryf te erken.
Finaliste word deur ’n onafhanklike paneel van toerisme-, gasvryheids- en sakekundiges beoordeel.
Volgens Marais het die TTA, sy direksie en sy lede geen invloed op die finale puntetoekenning of die keuse van wenners nie.
Finaliste word beoordeel volgens gemeenskapsbydraes en volhoubaarheid, interne werksomgewing en spankultuur, samewerking en betrokkenheid binne die bedryf, asook besigheidsgroei en verbetering.
Vanjaar se finaliste verteenwoordig die volle spektrum van Tshwane se toerisme-ekonomie, met kategorieë wat wissel van konferensie- en geleentheidslokale tot restaurante, toeroperateurs, toeriste-aantreklikhede, gastehuise, lodges, opleidingsinstellings en toeristegidse.
Die wenners sal op 22 Augustus tydens die Tshwane Toerismetoekennings se gala-aand aangekondig word.
Die geleentheid sal, volgens Marais, ’n aand van viering, netwerkvorming en inspirasie wees waartydens die stad se voorste toerismeondernemings en individue vereer sal word.
Meer as 350 toerisme-rolspelers, sakeleiers en belanghebbendes het verlede jaar se toekennings bygewoon.
Marais sê die toekennings dien as ’n belangrike erkenning vir mense wat die toerismebedryf aanvoer en motiveer.

Sy het alle finaliste gelukgewens en hulle sterkte toegewens vir die finale beoordelingsfase.
In die kategorie vir Konferensie- en Geleentheidslokaal van die Jaar ding 012central, CSIR International Convention Centre, Kievits Kroon Gauteng Wine Estate, Menlyn Boutique Hotel en Monte de Dios Conference and Wedding Centre mee om die wentoekenning.
Die finaliste vir Opleidings– en Onderwysverskaffer van die Jaar is Adventure Institute, die School for the Art & Science of Event Management, ’n afdeling van Conference Consultancy South Africa, en The Capital Hotel School and Training Academy.
In die Gastehuis van die Jaar-kategorie het 314 on Clark Guesthouse, 3@Marion Guesthouse, Hana Guest House, Lebamboo On Protea en The African Penguin Guesthouse and Conference Centre die finale ronde gehaal. Die finaliste is bekend vir hul persoonlike diens en verblyfaanbiedinge aan plaaslike en internasionale besoekers.
Die Hotel van die Jaar-kategorie word sterk verteenwoordig deur Kievits Kroon Gauteng Wine Estate, Menlyn Boutique Hotel, Stay Menlyn Hotel, The Centurion Hotel en The Pretoria Hotel. Die finaliste bied uiteenlopende verblyfopsies wat wissel van luukse boetiekervarings tot gevestigde sake- en ontspanningshotelle.
Vir Lodge van die Jaar is Cullinan Diamond Lodge, Kwalata Game Lodge, Ritsako Game Lodge en The Blades Hotel and Conference Venue as finaliste aangewys. Hierdie ondernemings bied besoekers die geleentheid om die natuur, wildlewe en ontspanning naby die stad te ervaar.
Die kategorie vir Township Tourism Experience van die Jaar beklemtoon die groeiende belang van gemeenskapsgebaseerde toerisme. Eazy Events & Tours, Fundani Tours en Noxolo Guesthouse ding mee vir die eer nadat hulle unieke plaaslike ervarings aan besoekers bied.
In die Restaurant van die Jaar-kategorie is Kievits Kroon Gauteng Wine Estate, Le Bon Goût Café, LeSi Singing Waiter Restaurant by Casa Toscana Lodge en So Subtle onder die finaliste. Die kategorie erken ondernemings wat uitstaande kos-ervarings en diens aan gaste lewer.
Twee bekende name, Kievits Kroon Gauteng Wine Estate en Mangwanani Spa, is finaliste vir Spa- en Welweesverskaffer van die Jaar. Die kategorie fokus op ondernemings wat ontspanning, welstand en holistiese ervarings aan besoekers bied.
Verskaffer aan die Bedryf van die Jaar sluit CASI, eCom, Go See Do South Africa, Q2B Solutions en The Pretoria Bucket List in. Hierdie ondernemings ondersteun die toerismesektor deur tegnologie, bemarking, kommunikasie en ander noodsaaklike dienste.
In die Tour Operator van die Jaar-kategorie ding La Luonde Tours, Ulysses Tours & Safaris en Zilko Tours & Travel mee. Die finaliste help besoekers om die stad en omliggende gebiede deur georganiseerde toere en reiservarings te ontdek.
Die kategorie vir Toeriste-aantreklikheid van die Jaar bevat verskeie van Pretoria se bekendste bestemmings. Bill Harrop’s Original Balloon Safaris, Dinokeng Wildreservaat, JAVETT Art Centre aan die Universiteit van Pretoria, die Pretoria Nasionale Botaniese Tuin, Royal Africa Experiences, SunOx Fishing Adventures en die Voortrekkermonument is almal in die wedloop vir die toekenning.
Die Chef van die Jaar-kategorie vereer kulinêre talent en innovasie. Die finaliste is sjef Dikeledi Sibanda van So Subtle, sjef Lebo Phala van HL Culinary, sjef Ronaldie Thurly van Villa Barranco en sjef Sivy Marie van Kievits Kroon Gauteng Wine Estate.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie?
Stuur gerus vir ons ‘n epos na [email protected] of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok en WhatsApp Channel
