Local sportSport

Backhouse Boxing se nuwe gimnasium open in Sinoville

Een van Suid-Afrika se mees suksesvolle boks afrigters, Charles Backhouse, se nuwe gimnasium het verlede week in Sinoville in die noorde van Pretoria geopen.

Amateur boks in die noorde van Pretoria het verlede week baie goeie nuus gekry toe Backhouse Boxing se nuwe gimnasium in Sinoville amptelik geopen is.

Terwyl amateur boks die afgelope paar jaar stadig maar seker weer momentum begin kry het na moeilike jare, hou hierdie ontwikkeling reuse belofte in vir die sport, want daarmee saam kom die kennis en ervaring van een van Suid-Afrika se groot bokslegendes.

Hy kan self nie mooi onthou hoeveel Suid-Afrikaanse kampioene en Springbokke of Proteas hy al afgerig het nie (ongeveer 15), maar ’n mens hoef net tydens die opening van die nuwe Backhouse Boxing gimnasium na die gesigte rondom jou te gekyk het om te besef watter reuse impak Charles Backhouse al op dié sport in Pretoria gehad het.

As een van die mentors van jong boksers by die destydse Bereapark Boksklub in Pretoria het Backhouse van die land se talentvolste boksers onder hande geneem en van hulle provinsiale-, nasionale- en wêreldkampioene gemaak. Een van die manne wat die fyner kuns van boks by hom geleer het, was Sebastiaan Rothmann, wat later as junior swaargewig (cruiserweight) ’n dubbel wêreldkampioen sou word.

Nog later het Backhouse betrokke geraak by die HTS Tuine Boksklub, waar hy een van sy ander protégés, Danie Venter, afgerig het en van hom ook ’n wêreldkampioen gemaak het.

Backhouse was na sy aftrede as werknemer by die Universiteit van Suid-Afrika (UNISA) ’n tyd lank onaktief in die bokswêreld, maar drie jaar gelede het die gogga weer gebyt en hy het die Backhouse Boksklub in Montana gestig om weer jong manne met drome van glorie in die bokskryt onder hande te neem.

Die lokaal in Montana waar Backhouse Boxing in Oktober 2023 gestig is, is intussen nie meer beskikbaar nie en ander planne moes gemaak word. ’n Nuwe lokaal is gevind in die Montana Sentrum in Serissastraat 365, Sinoville (langs die BP vulstasie) en dis hier waar die amptelike opening verlede week plaasgevind het.

Charles Backhouse (middel) en twee van sy huidige protégés, wat albei vandeesweek hoop om as SA kampioene gekroon te word by die nasionale amateur bokskampioenskap in Kuilsrivier in die Wes-Kaap. Links is Jonathan Swart en regs is Clayton Liebenberg.
Foto: Koos Venter

Hoewel hy al 73 somers agter hom het, lyk dié boksmeester tien jaar jonger en hy is fikser as baie manne wat 20 jaar sy junior is.

“Ek voel nog goed en die krytwerk (pad-work) met my boksers hou my besonder fiks en sterk,” het Backhouse aan Rekord gesê.

Rothmann het tydens die opening van die spoggerige nuwe gimnasium van Backhouse Boxing hulde gebring aan Charles Backhouse, terwyl verskeie ander oud kampioen-boksers wat oor dekades heen deur dié strydros afgerig is ook staaltjies vertel het oor hul ervarings in die kryt.

“Jong boksers kan bevoorreg voel dat oom Charles nog beskikbaar is om hulle te lei,” het Rothmann beklemtoon.

Intussen veg twee van Backhouse se huidige protégés, Clayton Liebenberg en Johnathan Swart, hierdie week by die SA kampioenskap in Kuilsrivier in die Wes-Kaap en hy glo dat albei ’n kans het om as SA kampioene gekroon te word.

Boksers wat belangstel om deel te word van Backhouse Boxing se gimnasium is wekom om die oefeninge by te woon by Serissastraat 365, Sinoville. Oefeninge vind plaas op Maandae, Dinsdae, Donderdae en Vrydae vanaf 16:00 tot 19:00.

Vir meer besonderhede, kontak Charles Backhouse by 083-382-3539.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na [email protected] of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons FacebookTwitter en Instagram blaaie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Koos Venter

Koos Venter is an experienced journalist who started his career 35 years ago, before the days of cellphones, modern computer systems, the internet and digital cameras, as a correspondent for Nexus, the former national magazine of the Department of Correctional Services. He has since worked for various other publications in all aspects of news coverage, as a columnist and in the production side of newspapers and online publications. Since 2007 he has specialized as a sports writer, while he is also regularly used as an analyst and commentator by several radio stations.
Back to top button