Diere-organisasie brei uitreikwerk na skole en met nuwe vennootskappe uit
Die Southern Africa Animal Cancer Association brei sy dierewelsynsuitreikwerk uit vanjaar en plaas opvoeding sentraal in sy nuwe projekjaar. Met bykans 30 skole wat reeds besoek is, asook nuwe produkte en vennootskappe, wil die organisasie kinders leer om verantwoordelik en respekvol teenoor diere op te tree.
Die nie-winsgewende organisasie, Southern Africa Animal Cancer Association (SAACA), fokus vanjaar sterk op opvoeding, met bykans 30 skole wat reeds deur sy uitreikprogram bereik is.
Die program fokus veral op jong kinders tussen die ouderdomme van twee en ses jaar en leer hulle oor verantwoordelike troeteldiereienaarskap en respekvolle omgang met diere.
Volgens Munnik Marais, stigter en bestuurshoof van SAACA, fokus die organisasie vanjaar hoofsaaklik op opvoeding, hoewel navorsing steeds deel van hul werk uitmaak.
Hy sê die opvoedingsprogram het baie tyd en hulpbronne geverg en sal waarskynlik vir die res van die jaar ’n belangrike fokus bly.

Marais sê 30 skole het reeds die program vir die jaar voltooi en dat die organisasie alles in sy vermoë sal doen om vanjaar soveel moontlik skole te bereik.
Die doelwit is om teen die einde van die jaar ongeveer 70 skole te bereik, waarna die projek volgende jaar voortgesit sal word.
Die ouderdom van die kinders wat by die program betrokke is, is volgens Marais ’n interessante aspek van die projek.
Hy sê die vrae wat kinders tussen twee en ses jaar vra, asook hul belangstelling in troeteldiere, wys hoe vroeg die boodskap van verantwoordelikheid oorgedra kan word.
Die kern van die program is volgens hom om kinders te leer dat die verantwoordelikheid vir ’n troeteldier nie net by hul ouers lê nie, maar ook by hulle.
“Dit is nie moeilik nie want kinders sien troeteldiere dikwels as ’n maatjie en dit beteken om die boodskap oor te dra dat jy verantwoordelikheid vir ’n maatjie neem.”
Die terugvoer van kinders, ouers en skole was volgens Marais positief.
Ouers het die organisasie geskakel om dankie te sê nadat hul kinders by die huis vertel het wat hulle tydens die skoolbesoek geleer het.

Onderwysers en skoolhoofde het ook positiewe terugvoer gegee oor die inhoud van die aanbiedings en wat hulle ná die besoeke by die kinders opmerk.
Die program sluit onder meer onderrig oor basiese troeteldierhigiëne, skaduwee en beskerming teen die son, skoon water- en kosbakke, versorging en borsel, sterilisasie, die herkenning van moontlike kankersimptome en respekvolle interaksie met diere in.
Kinders ontvang ook opvoedkundige materiaal om huis toe te neem. Elke skoolbesoek bring egter ’n koste vir die organisasie mee. Kinders kry onder meer vrugte, skyfies, water en ’n inkleurboek wat met dieregesondheid en versorging verband hou.
Vir Marais is die doel van die projek groter as bloot die versorging van troeteldiere. Hy glo dat wanneer kinders geleer word om verantwoordelik teenoor diere te wees, die boodskap ook na die breër gemeenskap kan deurvloei.
“Die manier waarop mense hul diere behandel, het ’n invloed op hoe hulle ander mense behandel. Respek, liefde en verantwoordelikheid teenoor diere kan bydra tot beter behandeling van mense binne gesinne en gemeenskappe,” glo Marais.
SAACA se werk het vanjaar ook uitgebrei na produkte vir die diereversorgingsmark. Die organisasie het onder meer organiese troeteldiersjampoe, twee waterbasis-parfuums vir honde (een vir reuns en een vir tewe) en produkte ontwikkel wat vir vlooie en bosluise gebruik kan word.
Marais sê daar is veral tans in Pretoria groot belangstelling in produkte teen vlooie.
Vennootskappe vorm ook soos altyd ’n belangrike deel van SAACA se nuwe projekjaar. Marais is ’n bestuurder wat daaraan glo om hande te neem.
Die organisasie help tans as hul Augustusmaandprojek die Pretoria-dierereddingsorganisasie Animal Ambulance, ’n inisiatief wat diere red wat op snelweë, paaie en in landelike gebiede beseer raak.
Die diere wat gered word, sluit honde, perde, varke, hoenders en ander diere in. Volgens Marais word die diere nie vir aanneming of verkoop aangebied nie, maar word hulle versorg nadat hulle gered is.
Een van die grootste behoeftes by Animal Ambulance is kos, maar skoonmaakmiddels is ook ’n groot uitgawe omdat hokke, bakke en ander areas gereeld skoongemaak en gesteriliseer moet word.
SAACA het daarom sy Augustus-fokus op Animal Ambulance gerig en ondersteun die organisasie met skoonmaakmiddels. Fondse wat deur ’n potjiekoskompetisie ingesamel is, is ook aan Animal Ambulance beskikbaar gestel.

Capital Hotel School het intussen ook by die projek betrokke geraak en sal ’n dag se kos vir die vrywilligers en mense wat by Animal Ambulance werk, voorberei op 2 September. Die doel is om die mense wat daagliks na die diere omsien, te ondersteun en te bederf.
Marais sê korporatiewe maatskappye is nog nie genoeg by dierewelsyn betrokke nie. Hy glo daar is ’n groot behoefte aan korporatiewe ondersteuning vir onder meer sterilisasieprojekte, veral in landelike gebiede.
Finansiering bly ook ’n uitdaging vir die skoolprogram omdat die aanbiedings gratis aangebied word. Marais sê ’n borgskap van gemiddeld R1 500 per skool sal die basiese koste van ’n skooldag help dek en nooi meer borge om by die projek aan te sluit.
Die organisasie ontvang reeds ondersteuning van mense en instansies wat saam met hom werk, waaronder Eco Vet en Dotsure.
’n Mobiele eenheid bly intussen een van Marais se groot drome.
“Die projek kan nie volhoubaar wees as dit slegs deur kleiner fondsinsamelings ondersteun word nie. ’n Bestuurder en personeellid sal nodig wees om met die eenheid saam te gaan, terwyl die totale finansiële uitleg aansienlik sal wees. Ons sal egter nie opgee op die droom nie.”
Marais sê minstens R1-miljoen sal nodig wees om die mobiele eenheid op ’n volhoubare basis aan die gang te kry. Hy hoop steeds om dié droom in die toekoms te verwesenlik.
SAACA sal ook aan verskeie fondsinsamelings- en bewusmakingsgeleenthede deelneem. Die organisasie is deel van die Kunsmark op 30 Augustus by die Grapevine Kunstateljee in Lynnwoodweg, waar SAACA-produkte en handgemaakte sagte speelgoeddiertjies verkoop sal word.
In Oktober word ook ’n padeldag by Rietondale beplan, met padel, bewusmaking en ’n gesinsdag as deel van die geleentheid.
Vir Marais bly opvoeding die belangrikste beginpunt van dierewelsyn.
“Deur ’n sterk basis van verantwoordelikheid teenoor diere by kinders te bou, hoop ons om uiteindelik ’n boodskap te skep wat verder as die skool en die troeteldier strek en ’n positiewe invloed op gesinne en gemeenskappe kan hê.”
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie?
Stuur gerus vir ons ‘n epos na [email protected] of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok en WhatsApp Channel
