News

Tuks-navorsing ingespan om swartrenosters te red

Vir swartrenosters beteken beter kennis van geboorte, habitatkeuse en sosiale gedrag meer as net ’n beter begrip van hierdie bedreigde spesie. Sulke kennis kan uiteindelik lei tot slimmer bestuursbesluite en ’n groter kans dat toekomstige bevolkings nie net oorleef nie, maar ook groei.

Data wat oor meer as 20 jaar by die Wêreldnatuurfonds Suid-Afrika (WWFSA) se Swartrenoster-gebiedsuitbreidingsprojek versamel is, help wetenskaplikes nou om beter te verstaan wanneer koeie geboorte skenk, waar hulle dit doen en hoe sosiale gedrag die oorlewing van jonger renosters kan beïnvloed.

Navorsers van die Universiteit van Pretoria wat by die navorsing betrokke is, wys hoe hierdie data oor geboorte en sosiale interaksies beter bewaring kan ondersteun.

Een van die hoofbevindings is dat swartrenosters, wat dikwels as eensame diere beskryf word, se sosiale wêreld ingewikkelder is as wat voorheen aanvaar is.

Langtermynnavorsing onthul nuwe insigte oor swartrenosters se geboortes en sosiale gedrag, en wys hoe wetenskaplike data bewaring en bestuur van hierdie bedreigde spesie kan versterk. Foto: Verskaf

Die uitbreidingsprojek het in 2003 as ’n loodsprojek begin met die doel om getalle van swartrenosters te versterk.

Sedertdien is renosters op projekterreine voortdurend gemonitor.

Vandag verteenwoordig die langtermyn-datastel ’n besonder waardevolle bron vir wetenskaplike navorsing.

Volgens Andrea Weiss, mediabestuurder van die WWFSA, word 420 renosters tans noukeurig gemonitor.

Sy verduidelik die inligting is aanvanklik hoofsaaklik vir bevolkingsbestuur ingesamel, maar navorsers gebruik dit toenemend om vrae oor die spesie se gedrag en bewaring te beantwoord.

Ursina Rusch, bevolkingsbestuurder van die projek, sê die waarde van die langtermynprojek lê juis daarin dat bestaande bestuursdata nou tot wetenskaplike insigte lei.

“Na meer as 20 jaar van suksesvolle vestiging en bestuur van swartrenosterbevolkings is dit fantasties om te sien hoe die inligting wat op ons terreine versamel is, in wetenskaplike navorsing omskep word wat ons bewaring- en bestuursbenadering verder kan verbeter,” sê sy.

Rusch voeg by dat bevolkingsbestuur in die verlede dikwels op waarnemings en anekdotiese bewyse gesteun het.

Van veldwerk deur navorsers soos Ursina Rusch (middel) tot die verfyning van bestuursdata tot wetenskaplike ontdekkings: langtermyn-monitering het nuwe geheime oor swartrenosters se geboortes, sosiale interaksies en oorlewing onthul. Foto: Verskaf

Die omvang van die nuwe datastel maak dit egter moontlik om besluite toenemend op navorsing te grond.

“Met toegepaste wetenskaplike navorsing kan ons ons omvangryke datastel gebruik om pragmatiese, wetenskaplik-gefundeerde besluite te neem om te verseker dat swartrenosterbevolkings gesond bly en steeds in getalle groei,” sê sy.

Een van die studies fokus op ’n uitdaging waarmee renosterbestuurders lank geworstel het: om presies vas te stel wanneer ’n koei geboorte geskenk het.

Devon Kerr, dr. Rachel Stein en prof. Adrian Shrader – navorsers van die Universiteit van Pretoria se Departement Dierkunde en Entomologie – het ’n metode ontwikkel om swartrenostergeboortes vanaf ’n afstand te identifiseer.

Vir navorsers is direkte waarneming besonder moeilik.

Hulle het egter bevind die diere is meestal alleenlopend, kan gevaarlik wees en vermy dikwels menslike kontak.

Gevolglik was navorsers voorheen dikwels afhanklik van seldsame waarnemings van jong kalwers om geboortedatums te skat.

Volgens Kerr kon dié skattings soms maande van die werklike geboortedatum af wees.

Kerr verduidelik dat deur GPS-bewegingsdata van renosterkoeie te ontleed, kon navorsers duidelike veranderinge in beweging voor en ná geboorte identifiseer.

“Dit bied bestuurders ’n meer akkurate manier om die tydstip van geboorte te bepaal sonder om die diere direk te versteur,” bevestig Kerr.

Die navorsers kon ook oplet na waar moeders verkies om geboorte te skenk.

Met meer betroubare geboortedatums kon hulle geboorteplekke vergelyk met verskillende habitatte en vlakke van roofdierdigtheid.

Volgens Kerr kan dié inligting belangrik wees wanneer bestuurders besluit hoe beskermde gebiede ingerig en bestuur moet word om die oorlewing van jong kalwers te bevorder.

’n Tweede studie het gefokus op die sosiale gedrag van swartrenosters en die moontlike verband tussen sosiale interaksies en oorlewing.

Navorsers het GPS-data gebruik om swartrenostergeboortes van ’n afstand te identifiseer. Die bevindinge kan help om geboorteplekke, habitatte en roofdierdruk beter te bestuur. Foto: Verskaf

Stein en Shrader het waarnemings en demografiese data oor ’n tydperk van 20 jaar uit 14 reservate ontleed.

Die datastel het byna 70 000 waarnemings van 542 swartrenosters ingesluit, met diere wat volgens ouderdom in kalwers, subvolwassenes en volwassenes gekategoriseer is.

Daar is bevind dat hoewel swartrenosters oor die algemeen alleenlopend is, het die navorsing gewys dat ontmoetings tussen individue ’n belangrike rol in hul lewens kan speel.

Individue wat meer sosiaal is gedurende hul subvolwasse jare, sal volgens die resultate later as volwassenes ’n laer risiko van aggressieverwante sterftes kan hê.

Die bevindinge kan gevolge hê vir die manier waarop renosters tussen reservate verskuif word.

Schrader sê hervestiging is ’n belangrike deel van swartrenosterbewaring, veral wanneer nuwe bevolkings gevestig of bestaande bevolkings versterk word en meen dat bestuurders nie slegs die grootte en genetiese of demografiese samestelling van ’n bevolking in ag behoort te neem nie.

“Sosiale dinamika behoort ook deel van die besluitnemingsproses te wees. Deur beter te verstaan hoe individuele renosters met mekaar omgaan, kan reservaatbestuurders moontlik die risiko van dodelike aggressie ná ’n verskuiwing verminder,” glo Schrader.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? 

Stuur gerus vir ons ‘n epos na  [email protected] of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok en WhatsApp Channel

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Elize Parker

Elize Parker is a senior journalist with more than 25 years of experience covering especially environmental, municipal and profile articles. She writes investigative reports, profiles, social articles and consumer related articles and also does photographs and multimedia to go with these. Previously she worked as a news editor for a radio station, news reader, a magazine journalist with women’s magazines and as a column writer.
Back to top button