Pretoria-dieretuin versorg papegaai-kuikens ná smokkelary
Kuikens wat uit papegaai-eiers uitgebroei het ná ’n onderskepping by OR Tambo Internasionale Lughawe, word by die Nasionale Dieretuin in Pretoria versorg terwyl ondersoekbeamptes voortgaan met ondersoeke na vermeende internasionale wildsmokkelary en beskermde voëlspesies.

Verskeie papegaai-kuikens ontvang intensiewe sorg by die Nasionale Dieretuin in Pretoria. Die kuikens het uitgebroei nadat die eiers tydens ’n vermeende wildsmokkelpoging by OR Tambo Internasionale Lughawe onderskep.
Die eiers is op 20 Augustus tydens ’n gesamentlike intelligensiegedrewe operasie deur die Departement van Bosbou, Visserye en die Omgewing se Omgewingsbestuursinspektoraat, die polisie en die grenspolisie onderskep.
’n 50-jarige Thaise burger is in hegtenis geneem nadat 50 voël-eiers glo in ’n tuisgemaakte broeisak versteek is wat as handbagasie vervoer is.
Voorlopige ondersoeke dui daarop dat die eiers afkomstig is van papegaaispesies wat ingevolge die Konvensie oor Internasionale Handel in Bedreigde Spesies van Wilde Fauna en Flora (CITES) gelys is.
Die ondersoek na die saak duur voort.
Op 16 Julie vanjaar is ’n 23-jarige Thaise burger ook by OR Tambo onderskep met 418 papegaai-eiers in twee tuisgemaakte broeikas-sakke.
Personeel van die Suid-Afrikaanse Nasionale Instituut vir Biodiversiteit (SANBI), veral kundige werknemers by die Nasionale Dieretuin in Pretoria, is intussen verantwoordelik vir die versorging van die eiers en kuikens.
Volgens die departement het verskeie van die eiers reeds uitgebroei. Die kuikens ontvang intensiewe veeartsenykundige en veeteeltkundige sorg om hul kanse op oorlewing te verbeter.
Suid-Afrika het geen natuurlike wilde populasie van die Afrika-gryspapegaai (Psittacus erithacus) nie, maar het ’n buitengewone groot aandeel van die wêreldwye handel in gryspapegaaie wat in gevangeskap geteel word.
Volgens data wat deur die Konvensie oor Internasionale Handel in Bedreigde Spesies (CITES) saamgestel is, was Suid-Afrika se aandeel van die wêreldwye aangetekende uitvoere van Afrika-gryspapegaaie in sekere jare meer as 90%.

Die Minister van Bosbou, Visserye en die Omgewing, David Maynier, het Sanbi-personeel se ondersteuning erken en gesê hul werk om die diere se welsyn te beskerm, is van groot waarde.
Die twee voorvalle wys volgens die departement se woordvoerder, Kerry Mauchline, op die toenemende gesofistikeerdheid van internasionale netwerke wat by wildsmokkelary betrokke is.
Volgens haar beklemtoon dit ook die rol van samewerking tussen wetstoepassingsinstansies om georganiseerde wildmisdaad te bekamp.
Maynier het die onderskeie wetstoepassingsagentskappe gelukgewens met die operasie. Hy het die belangrikheid van ’n gesamentlike benadering tot die toepassing van omgewingswetgewing beklemtoon.
Suid-Afrika het die Nasionale Geïntegreerde Strategie om Wildsmokkelary te Bekamp (NISCWT) ontwikkel in reaksie op die bedreiging wat onwettige wildhandel inhou.
Mauchline verduidelik dat die strategie daarop gemik is om samewerking tussen staatsinstellings, wetstoepassingsagentskappe, bewaringsowerhede, doeane, aanklaers en internasionale vennote te versterk.
“Dit sluit onder meer verbeterde intelligensiedeling, kapasiteitsbou en geteikende wetstoepassingsaksies in. Die doel is om georganiseerde kriminele netwerke wat by die onwettige handel in wild betrokke is, te ontwrig,” verduidelik Mauchline.
Die onwettige versameling en handel in papegaai-eiers hou volgens die departement ’n ernstige bedreiging vir wilde voëlbevolkings en dierewelsyn in.
Die eiers word dikwels in geïmproviseerde broeitoestelle versteek en onder omstandighede vervoer wat die lewensvatbaarheid van die eiers kan benadeel. Die toestande kan ook die welsyn van ontwikkelende embrio’s en pas uitgebroeide kuikens in gevaar stel.
Die uitvoer van eksemplare van CITES-gelyste spesies is streng gereguleer en vereis permitte van sowel die uitvoer- as die invoerlande.
Kragtens Artikel 102 van die Nasionale Omgewingsbestuur: Biodiversiteitswet, 2004 (Wet 10 van 2004), kan ’n persoon wat aan ’n oortreding ingevolge artikel 101 skuldig bevind word, ’n boete van tot R10-miljoen, gevangenisstraf van tot tien jaar of albei opgelê word.
Mauchline beklemtoon dat die departement sal voortgaan om met nasionale en internasionale wetstoepassingsvennote saam te werk om individue en misdaadsindikate wat by onwettige wildhandel betrokke is, te identifiseer, te ondersoek en te vervolg.
Die departement sê volgehoue samewerking, intelligensiedeling en geteikende optrede bly noodsaaklik om wildmisdaad te bekamp en Suid-Afrika se biodiversiteit te beskerm.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie?
Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok en WhatsApp Channel
