Local newsNews

Bekroonde kok vier die lewe met stories

Isabella Niehaus se nuwe boek, Bella’s Kitchen, is meer as ’n kookboek. Dit is ’n warm terugblik op haar Vrystaatse kinderjare, jare as joernalis en die lang tafels in haar gemoedelike huisrestaurante waar vreemdelinge vriende word.

Pretoria-oos het onlangs ’n proeseltjie van internasionaal bekroonde kok, Isabella Niehaus, se denkwyse oor kos, kombuise en die lewe leer ken toe sy haar nuwe boek, Bella’s Kitchen: A South African Food Odyssey, in die hoofstad bekend gestel het.

Die boek is by die kleurvolle kunsgalery, Bonthuijs, bekendgestel waar Niehaus in gesprek was met bekende Moot-boekredakteur, Phyllis Green.

Die kookboek pas nie net in een kategorie nie en is deels ’n persoonlike vertelling en deels ’n kookboek, maar ook ’n liefdesbrief aan die lewe.

Vir Niehaus was kos immers nog nooit nét kos nie. Op 70-jarige ouderdom kyk sy met dankbaarheid terug op ’n pad van haar afgesonderde kinderjare in die Vrystaat tot haar jare as moderedakteur in die modewêreld.

Sy het ook lank aan die Weskus in Langebaan gewoon en bly nou in ’n kleurvolle huis in die Swartland in die Wes-Kaap op Riebeek-Kasteel.

Die omslag van die nuwe boek vertel reeds iets van ’n ingesteldheid dat kos vreemdelinge vriende kan maak.

Niehaus verskyn op die voorblad van die boek met haar arms vol tamaties. “Vir my het arms vol tamaties nog altyd oorvloed beteken,” vertel sy.

Rachelle Cilliers, eienaar van The Book Keeper Shop-boekwinkel in Pretoria-oos. Foto: Elize Parker

Tamaties bring haar ook terug na haar kinderjare. Sy het grootgeword as die aangenome dogter van ’n sendelingpaar by ’n teringhospitaal naby Thaba N’chu in die Vrystaat.

Dit was ’n afgesonderde kinderlewe oor die aard van die hospitaal, vertel sy, maar terselfdertyd een waarin sy baie liefde en aandag gekry het.

Hier het sy saam met haar ma, Issie, jêmtertjies en melkterte gemaak. Die tertdeeg is op ’n tafeltjie met ’n marmerblad uitgerol.

“Ek kan my ma so teen die lig agter die tafeltjie sien staan, ’n rustige toneel van die mens wat sy was.”

Haar lewe vorentoe sou haar egter eers ver van kombuise en groentetuine neem. Ná skool is sy na die Universiteit van die Vrystaat toe en later het sy by ’n nuuskantoor in Bloemfontein begin werk. Haar loopbaan as joernalis het haar uiteindelik na Die Burger en daarna na Rooi Rose geneem, waar sy skoonheidsredakteur was, asook na Sarie-tydskrif waar sy mode-redakteur was.

Na haar verhuising uit Kaapstad na die Weskus om in Langebaan te gaan woon, het sy begin om quiches vir ’n markie te bak. Wat aanvanklik as ’n klein onderneming begin het, het uitgebrei en gou het sy naam daarmee gemaak.

Só het sy al hoe meer tyd saam met kosmense en kokke deurgebring. Haar huis in Langebaan, Duinhuis, het die plek geword waar sy haar passie vir kook en skryf ten volle kon uitleef. Hier het sy ook haar eerste kookboek, Duinhuis, geskryf.

Sy beskryf haarself nie as ’n sjef nie. Sy is eerder ’n selfgeleerde kok. “Ek is vreesloos in die kombuis,” sê sy.

Isabella Niehaus het haar voete in die kosbedryf gevind met quiches wat sy vir 'n kosmark begin bak het. Foto: Elize Parker

Dié vreesloosheid is ook sigbaar in die resepte wat in dié boek saamkom. Asook in haar twee kookboeke saam met Louis Jansen van Vuuren waarvoor hulle internasionale Gourmandpryse losgeslaan het: Daar’s ‘n Vegan op my Veranda en Skepselkos.

Waar sy nou woon het sy ’n tuin met olyfbome wat kreun onder hul kosbare vrag. En tamaties, natuurlik tamaties.

Sy sien dieselfde liefde vir kos nou in haar seun, Taro, wat die wêreld deurreis as deel van die personeel van ’n luukse skip en vir sy span kook.

Miskien is dit uiteindelik die hoofboodskap van Bella’s Kitchen: dat kos ’n nalatenskap oordra en sorg vir die begin van vriendskappe rondom ’n lang tafel.

Isabella Niehaus, internasionaal bekroonde kookboekskryer, kok, stilis en entrepreneur. Foto: Elize Parker

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? 

Stuur gerus vir ons ‘n epos na  [email protected] of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok en WhatsApp Channel

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Elize Parker

Elize Parker is a senior journalist with more than 25 years of experience covering especially environmental, municipal and profile articles. She writes investigative reports, profiles, social articles and consumer related articles and also does photographs and multimedia to go with these. Previously she worked as a news editor for a radio station, news reader, a magazine journalist with women’s magazines and as a column writer.
Back to top button