Nuwe tradisie in weste van Pretoria geskep met Tuine-skole se ‘Old Boys’ derby
’n Nuwe rugby-tradisie word op 12 September in die weste van Pretoria geskep wanneer die eerste “Old Boys Classic Clash” tussen voormalige rugbyspelers van Hoërskool Tuine en HTS Tuine by die Grizzlies rugbyklub sal plaasvind.
Skolerugby derbies is vir jare reeds ’n integrale deel van die rugby kultuur in Suid-Afrika.
Hieruit het daar oor dekades heen ook ’n paar baie gewilde “Old Boys” derbies ontstaan. Dié derbies dra by tot die opbou van die rugby-kultuur in die omgewing waar dit plaasvind, terwyl dit ook op verskeie maniere gebruik kan word om die sport en sy tradisies by die onderskeie skole te bevorder.

Foto: Koos Venter

Foto: Koos Venter

Foto: Koos Venter

Foto: Koos Venter
Op 12 September 2026 word ’n nuwe “Old Boys” tradisie in die weste van Pretoria gevestig wanneer die eerste “Old Boys Classic Clash” tussen voormalige leerlinge en rugbyspelers van Hoërskool Tuine en HTS Tuine by die Grizzlies rugbyklub aangebied gaan word.
Groot opgewondenheid het die afgelope week geheers toe dié nuwe inisiatief amptelik bekendgestel is by die Tuine Sportklub, tuiste van die Grizzlies. Beide die skole se hoofde, mnre. Johan Furstenberg van Tuine en C.S. van der Nest van HTS Tuine het ook die bekendstelling bygewoon, terwyl die president van die Blou Bulle Rugby-unie, Willem Strauss, die eregas was en die oorhandiging van die spanne se spesiale nuut-ontwerpte truie vir die “Old Boys Classic Clash” behartig het.

“Baie geluk met hierdie puik inisiatief. Ons weet dat hierdie soort rugbyfeeste besonder gewild is. Die jaarlikse Old Boys-derby tussen Hoërskool Oos-Moot en HTS John Vorster trek duisende toeskouers en ek glo hierdie fees kan dit ook regkry, wat net goed kan wees vir rugby,” het Strauss gesê.
Hy het ook daarop gewys dat verskeie rugbyspelers wat later groot name in die spel geword het, in die Tuine-omgewing grootgeword het, wat bewys dat rugby-talent volop is in dié gemeenskap.
Daar is bekendgemaak dat belangstelling reeds so groot is dat twee wedstryde as deel van dié derby aangebied word.

Foto: Koos Venter

Foto: Koos Venter

Foto: Koos Venter
Die Old Boys derby sal deel wees van ’n rugbyfees waartydens die Grizzlies rugbyklub se eerstespan ook in ’n opwarmingswedstryd ter voorbereiding vir die komende nasionale Gold Cup klubrugby toernooi teen Centurion rugbyklub sal speel. Dié wedstryd sal voorafgegaan word deur ’n wedstryd tussen die tweedespanne van Tuine en HTS Tuine se ‘Old Boys’, wat om 14:00 sal afskop. Ná die Grizzlies se Gold Cup opwarmingswedstryd teen Centurion, wat om 15:20 begin, sal die hoofdis van die rugbyfees, die stryd tussen die eerstespanne van Tuine en HTS Tuine se ‘Old Boys’, om 17:00 afskop.
Na afloop van die rugby-aksie op die klub se veld sal toeskouers by Grizzlies kan kuier om teen 23:00 die groot stryd tussen die Springbokke en die All Blacks op ’n groot skerm te volg, wanneer die Greatest Rivalry toer met die vierde toets in Baltimore in Amerika afgesluit word.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na [email protected] of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.
