Landboupresteerders word bekroon by kongres
Die hoofstad se landbousektor het sterk na vore getree tydens TLU SA se jaarlikse kongres, waar veiligheid, eiendomsreg, water, voedselsekerheid en ekonomiese volhoubaarheid bespreek is. Verskeie plaaslike rolspelers is ook vir besondere bydraes tot Suid-Afrikaanse landbou vereer.
Pretoria het op 2 September ’n belangrike bymekaarkomplek vir die landbousektor geword toe TLU SA sy jaarlikse kongres by die WNNR Internasionale Konferensiesentrum aangebied het.
Die geleentheid het ook erkenning tydens ’n dinee gegee aan mense wat ’n betekenisvolle rol in landbou en georganiseerde landbou speel.
Vir Pretoria was die kongres besonder belangrik omdat verskeie landboupersoonlikhede uit die stad en omliggende gebiede onder meer onder die bekroondes was.
Wannie Scribante, dr. Faffa Malan, en Tom Moodie is erken vir hul onderskeie bydraes, terwyl Louwrens Mahoney, Carlo Smuts, Ruan Jordaan en Henry Lubbe vereer is vir hul Coast to Coast 4 Farmers-inisiatief.
Die Nico Kilian-trofee, wat jaarliks ’n landboupersoonlikheid in TLU SA se bedieningsgebied vereer, is aan Scribante toegeken. Die onderskeiding erken diens aan georganiseerde landbou, betrokkenheid by die bevordering van die bedryf en ’n besondere bydrae gedurende die voorafgaande jaar.
Moodie se erelidmaatskap het weer ’n lang geskiedenis van diens aan TLU SA en georganiseerde landbou in die kollig geplaas. Hy het op die organisasie se Dagbestuur en finansiële en landboukomitees gedien. Hy was ook ’n stigtersdireksielid van TLU Eiendoms Beleggings Beperk en het ’n rol gespeel om die organisasie deur moeilike finansiële tye te help.
Geliefde en bekende veearts, dr. Faffa Malan, het ’n Presidentstoekenning ontvang vir sy bydraes tot landbou in die geheel en veeartsenykunde.

Met die Coast to Coast 4 Farmers-inisiatief het die vier vriende van Pretoria die hele Suid-Afrikaanse kuslyn op jetski’s aangedurf. Hulle tog het op 13 Maart van Sodwana- tot by Alexanderbaai gestrek. Die doel was om bewusmaking te skep vir boere se geestesgesondheid.
Die kongres self het egter veel verder as toekennings gestrek.
Landelike veiligheid, eiendomsreg, ekonomiese volhoubaarheid en die bewaring van grond en water was sentrale temas. Onder die tema ‘Beskerm’ het prof. Jannie Rossouw van die Wits Besigheidskool en Ian Cameron van die parlementêre Portefeuljekomitee oor Polisie deelgeneem aan ’n paneelgesprek.
Die rol van plaaswagte en ander private veiligheidstrukture het deel van die gesprek gevorm, asook die moontlikheid van ’n herinstelling van die reservistestelsel.
Die vraag hoe munisipaliteite, amptenare en die staat tot verantwoording geroep kan word wanneer waterhulpbronne swak bestuur word, was sentraal. Die gesprek hieroor het ook gekyk na doeltreffende watergebruik en die regs- en ander remedies wat aan watergebruikers beskikbaar is.
Landbouminister Willie Aucamp het in sy boodskap aan die kongres die belang van samewerking tussen die regering en die sektor beklemtoon.
Hy het landbou as ’n roeping beskryf en gesê hy is bereid om saam met produsente te werk.
Sy waarskuwing oor grondbeleid was direk: “Die ‘ons wil grond hê’-ideologie plant nie mielies nie.”
Aucamp het ook aandag aan bek-en-klouseersiekte gegee en die vordering met inenting uitgelig. “Ons maak nou werklike vordering,” het hy gesê.


Volgens Aucamp het alle kommersiële melkkoeie in Suid-Afrika reeds hul eerste entstofdosis ontvang, wat meer as 1.38 miljoen diere verteenwoordig. Hy het verder gesê tweede ronde-verspreiding is reeds aan die gang en dat die regering nie ’n knelpunt in dieregesondheid moet word nie.
Hy het verduidelik dat ’n roete ingestel is waarvolgens boere hul eie kuddes kan inent. Meer as ’n duisend boere het volgens hom reeds op die Departement van Landbou se aanlyn stelsel geregistreer om as gemagtigde persone hul eie beeste te kan inent.
Henry Geldenhuys het in sy presidentsrede die verband tussen winsgewende boerdery en voedselsekerheid beklemtoon. Hy het onder meer gepleit vir toepaslike landboufinansiering, billike graanpryse, toegang tot markte en beter beskerming teen misdaad en biosekuriteitsbedreigings.
Kliek hier om na Minister Willie Aucamp se toespraak tydens die kongres te kyk: https://youtu.be/5pwAeiNuimA
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie?
Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok en WhatsApp Channel