Jong sjefs kook ‘n storm los
Jong, aspirante kosliefhebbers het met hul talente gewoeker deur disse uit 'n ander wêreld op te toor.
’n Span van twee graad 11-leerlinge het onlangs die fyn kuns van kosmaak bemeester nadat hulle die top-vyf posisie by ’n bekroonde sjef-kompetisie behaal het.
Roné Oberholzer en Tehillah Joubert het onlangs aan die Pick n Pay se sjefkompetisie deelgeneem.
“Dit is ’n kuns – nie almal kan dit doen nie,” het Oberholzer gesê.
Die leerlinge het gasvryheidstudies by Hoërskool Zwartkop as deel van hul curriculum geneem, waar hulle hul talente beoefen en bemeester het in die fyner kunsies van kosmaak.
Vroëer vanjaar het hulle aan ’n gasvryheidkompetisie by die skool deelgeneem en deurgedring na Pick n Pay se sjefkompetisie vir graad 11-leerlinge.
Joubert en Oberholzer het hul eie spyskaart volgens ’n Italiaanse tema met eksotiese kruie en speserye saamgestel.
Al die deelnemers se spyskaarte is aan bekroonde beoordelaars van die Prue Leith Chefs Academy in Centurion oorhandig.
Dié twee se spyskaart het uit eksotiese geregte soos nacho’s met gerookte salm, beesfillet gemarineer in kruie soos tiemie, dragon en basiliekruid met kapokaartappels, en baklava as nagereg bestaan.
Hul resepte het hulle ’n plek in die top 5 uit 75 inskrywings verseker.
Oberholzer en Joubert het vertel dat hulle nie daarvan hou om uit resepteboeke te lees nie – hulle volg eerder hulle aanvoeling om ’n unieke gereg op te tower.
Vir Joubert is die lekkerste deel van kosmaak die gevoel wanneer haar eindproduk klaar is en dit perfek lyk.
“Om aan kookkompetisies deel te neem, gaan dit nie alleenlik oor die smaak van die geregte nie, maar die voorkoms en voorbereiding daarvan speel ook ’n belangrike rol,” het Joubert gesê.
Die fyner besonderhede wat gepaard gaan met die garneer van die bord is ewe belangrik, net soos die smake wat in die gereg na vore kom wanneer dit geproe word.
Joubert glo dat die proses van kosmaak vir haar ’n kreatiewe stimulasie is. “Ek hou daarvan om met geure, kleure en tekstuur te speel. En om die gereg te eet is die beloning,” het sy gesê.
Wenners het weggestap met prysgeld van R80 000 om by Prue Leith Chefs Academy te studeer. Die wenners het ook ’n geskenkbewys van Pick n Pay ter waarde van R10 000, ontvang.
Die doel van die kompetisie is om erkenning te gee aan ontluikende sjeftalente in Suid-Afrika, sowel as om die jeug aan te moedig om werksgeleenthede in spyseniering en gasvryheid te soek.