Bekende skrywers praat oor hul werk
Bekende skrywers het onlangs by 'n funksie gepraat oor hul boeke. Boekeliefhebbers, akademici en bekendes soos Steve Hofmeyr, het dié funksie bygewoon.

Die Suid-Afrikaanse Sentrum vir Nederlands en Vlaams (SASNEV) se gesogte Krimifees het verlede week in die skoolsaal van Laerskool Voorpos in Pretoria plaasgevind.
Die geleentheid was geskeduleer om in die Waverley Biblioteek plaas te vind, maar as gevolg van die verrassende opkoms en belangstelling, het die ligging verander.
Boekeliefhebbers, akademici en bekendes soos Steve Hofmeyr, het die funksie bygewoon.
Daar was nie een vervelige oomblik nie, want so spannend soos wat misdaadverhale is, was die gesprekke tussen die skrywers, interessant en spannend soos hulle hul geheime uitgelap het.
Gedagtes is gewissel tussen die Nederlandse skrywer, Adriaan van Dis, en Daniel Hugo, Ilse Salzwedel, Lien Roux-de Jager, Carla van der Spuy, die legendariese speurder Piet Byleveld, Irma Venter en Peet Venter.
Die optrede is deur SASNEV in samewerking met Waverley Biblioteek gereël.
Die programleier was Izak de Vries van Lapa-uitgewers en Sam Cooper van Waverley Biblioteek was die organiseerder .
Eerste aan die woord was Ilse Salzwedel en Lien Roux-de Jager. Salzwedel het gesels oor haar boek Bloedsusters. Dit is ’n biografiese vertelling oor twee susters (Roelien Schutte en Eileen de Jager) wat misdaadtonele opruim. Grusame misdaadtonele word in die boek beskryf, het sy vertel, maar die susters doen hulle werk met baie humor.
Roux-de Jager, skrywer van die reeks Donker Leuens en Gekoopte Leuens het gesê dat sy baie navorsing gedoen het om haar hoofkarakter, Kali Krynauw, geloofwaardig te laat voorkom in die oë van haar lesers. Daarvoor het sy onderhoude gevoer met ’n polisievrou om die nodige inligting te kry, veral rakende misdaadtonele.
Daarna het die skrywer van Skoenlaper en Skrapnel, Irma Venter met Peet Venter (Dieper as die bloed en Ou bloed) gesels.
Irma het verkies om nie ’n tipiese speurverhaal te skryf nie en om hierdie rede het sy sterk vroue gekies wat hulle probleme self wil oplos, al is hul metodes onortodoks.
Peet Venter het gesê sy karakter, Thys Krige (’n speurder), as jong seun min liefde van sy pa gekry het en die soektog na die sin van sy bestaan het voortgeduur in die verhaal. Sy groot dryfveer is om sy pa se moordenaars op te spoor.
Peet is bly dat mense simpatie het met die moordenaar in Ou bloed, want volgens hom is die idee om ’n tipe ambivalensie te skep, hoewel Thys natuurlik doelgerig werk om die moorde te stop.
Carla van der Spuy, gesogte skrywer van Mens of Monster, se gesprek met Piet Byleveld was, volgens De Vries, die hoogtepunt van die aand vir die gehoor.
Van der Spuy het baie navorsing in gevangenisse gedoen en het ’n aantal moordenaars persoonlik ontmoet. Sy het met Byleveld gepraat oor die manier waarop hy sy “kliënte” (soos wat hy na die verdagtes verwys) met respek behandel het en sodoende hul samewerking gekry het.
By geleentheid het hy selfs vir een van die ergste reeksmoordenaars ’n pak klere geskenk.
Talle staaltjies is vertel en geskryf oor sy werk met van die land se berugste moordenaars, onder andere Hanlie Retief se dossier oor hierdie baasspeurder.
Adriaan van Dis se gesprek met Daniel Hugo, vertaler van Van Dis se boek Tikkop, is ook baie interessant gewees, het De Vries gese.
Van Dis se boek bevat heelwat outobiografiese elemente, want, soos Moulder in die teks, het Van Dis ook baie jare deelgeneem aan ’n geheime beweging in Frankryk wat teen apartheid gekant was.
Van Dis is gebore uit ’n buite-egtelike verhouding en daarom word hy beskou as ’n “halfbloed”, wat in Suid-Afrika ’n “kleurling” sou wees. Hierdie eie kennis van “anders” wees, het hom in staat gestel om sy deel te doen vir die ondergrondse beweging.
Inligting is tussen die skrywers uitgeruil en na die tyd het die gehoor die geleentheid gehad om hul eie vrae aan die bekroonde skrywers te stel.