Local newsNewsSchools

Kinderdag word in oranje gevier

CMR Valhalla het kinders by skole laat besef hoe spesiaal hulle is.

’n Oranje golf het verlede week deur Centurion gespoel toe CMR Valhalla by 9 skole in die omgewing Nasionale Kinderdag gevier het.

Dié dag het gefokus op die welstand van kinders en om dit uit te beeld het die leerlinge van die verskeie skole deelgeneem aan die tema Wie ek is maak my spesiaal.

Volgens Daleen Nieuwoudt, ’n berader by CMR Valhalla, is dit belangrik dat kinders besef elkeen is uniek en daarom kosbaar op hul eie manier.

“Die doel van hierdie dag is om bewustheid oor die welstand van kinders te bevorder,” het Nieuwoudt gesê. “Die motivering vir die dag spruit uit die besef aan die behoefte om te fokus op die kind se karaktervorming en sodoende emosionele probleme as gevolg van huislike probleme soos egskeiding, geweld, mishandeling of verwaarlosing te voorkom.”

CMR Valhalla het hierdie dag ook as ’n geleentheid gebruik om hul karakterbou-program bekend te stel. “Ons wil in die komende jaar voortbou op hierdie tema’s,” het Nieuwoudt bygevoeg.

Die temakleur van die dag was oranje en elke skool het hul eie inisiatief geneem om hierdie tema aan die kinders oor te dra.

Die kinders was baie entoesiasties om hul kreatiewe werke aan die lede van CMR Valhalla voor te stel. Kleurvolle handgemaakte bome het klaskamers versier en sommige skole het die boodskap van spesiaal-wees deur middel van ’n opvoering uitgebeeld.

Laerskool Swartkop het lemoenboompies aan The Way, ’n christelike skool in Wierdapark, geskenk.

CMR Valhalla is deurlopend betrokke by kinders in die gemeenskap en ondersteun die aksies in die verskillende skole.

“Ons hoop ook dat daar voortgebou kan word op hierdie dag en dat dit ’n jaarlikse instelling sal word by al die skole in Centurion,” het Nieuwoudt benadruk. Hiermee wil die CMR groep ook die kinders bemagtig sodat hulle bewus is van die hulpbronne in hul gemeenskap. Hierdie inisiatief is ook ’n bewusmaking dat daar pro-aktief opgetree word teenoor kinders in nood.”

Skole wat betrokke by dié dag was, sluit in Hoërskool Eldoraigne, Laerskool Swartkop, Laerskool Bakenkop, The Way Christian School, Laerskool Wierdapark, Laerskool Hennopspark, Springvale Primary School, Centurion Christian School en Hoërskool Uitsig.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.
Back to top button