Jong entrepreneurs kry erkenning
Die wenner van vanjaar se Helpende Hand Entrepreneur-kompetisie is Woensdag aangewys.
‘n Bakster, ’n man met groen vingers en ’n boer met bokke het Woensdag in die finale stryd teen mekaar te staan gekom om te bepaal wie beskou word as die mees suksesvolle jong entrepreneur.
Die bakster, ‘n graad 9-leerling van Hoërskool Waterkloof, het Pretoria se naam hoog gehou hoewel sy nie as wenner weggestap het nie.
Honderde skoolleerlinge van regoor die land het vanjaar aan Helpende Hand, in vennootskap met Ontbytsake, se eerste entrepreneurkompetisie deelgeneem.
Die finaal het by Solidariteit Helpende Hand se hoofkantore in Centurion plaasgevind en tien finaliste het dié gala geleentheid bygewoon.
Uiteindelik het drie finaliste, Johann Schweidler, Edwin Pienaar en Elana Marais, elkeen hul voorlegging aangebied voordat die finale beoordeeling gedoen is.
Volgens Karin Venter, beroepsleiding projekorganiseerder by Helpende Hand, is daar beoog om ’n entrepreneur te kies, wie se besigheid nie alleenlik winsgewend is nie, maar ook volhoubaar.
Die 13-jarige Edwin Pienaar van Laerskool Dagbreek in Carletonville, het weggestap met die eerste prys as ’n boerbok-boer.
Hy het sedert die ouderdom van vyf met boerbokke begin boer, “omdat beeste te duur is,” het hy gesê.
Die wyse jong seun weet hoe om sy bokke te tel en maak ongeveer R7 000 per maand wins.
Hy het tans twee stoetramme en ongeveer 28 teëlooie.
“Ek is baie bly dat ek gewen het. Met dié prysgeld wil ek graag nog ’n stoetram koop,” het Edwin gesê.
Edwin beplan om sy boerdery uit te brei en om later met beeste te boer.
Elana, ’n graad 9-leerling van Hoërskool Waterkloof, het die behoefte by werkende vroue en ma’s gesien dat daar ’n tekort is aan beskuit en ander gebak in die huis en ’n tekort aan tyd om self te bak en brou.
“My ma het altyd gekla dat daar nooit beskuit in die huis is nie,” het Elana in haar aanbieding gesê. “Dit het my laat dink dat ander huishoudings moontlik dieselfde probleem ervaar.” Elana het beplan om ’n sukses van haar besigheid te maak deur haar bestellings te neem en dit stiptelik binne ’n dag af te lewer.
Die seun met groen vingers, Johann Schweidler, het ‘n vier-produkte-in-een diens verskaf. As ’n graad 10-leerling van HTS Drostdy in Worcester, het Johann erdwurms, vetplante in kassies en gedistilleerde water by die mark verkoop. Sy uitgawes is minimal omdat die meeste van sy voorraad, soos die erdwurms, vetplante en hout verniet is. Vir sy inisiatief het hy die derde plek behaal.
Die bekende ekonoom en aanbieder van Ontbytsake, Dawie Roodt, het sy kundigheid met die jong entrepreneurs gedeel en hulle aangespoor om dinge te doen wat hulle nooit gedink het hulle sal kan doen nie.
Hy het gemeld dat dit ryk mense is wat ander mense uit armmoede help. “Gaan en word ryk, want ryk mense maak ander mense ook ryk,” het hy gesê. Ds. Liesel Krause-Wiid het names die Willa Krause-groep as ’n suksesvolle sakevrou ook wenke met die kinders gedeel. “Dis lekker om ’n entrepreneur te wees, want dan bepaal jy jou eie werksure,” het sy optimisties gesê.
Sy het ook hierdie kompetisie as ’n geleentheid beskou om vir jongmense, wat twyfel oor hul toekoms, hoop te gee.
Helpende Hand het die behoefte aan entrepreneurs in die land besef en ’n projek beplan om juis hierdie behoefte aan te spreek deur jong entrepreneurs aan te moedig.
Venter het ook gesê dat hulle met die projek beoog om armoede in die land te help teenwerk.
