Local newsNews

Sunette gesels oor veldtog

Die bekende sangeres, Sunette Bridges, gesels oor die onlangse Red October veldtog.

Die onlangse Red October veldtog het die aandag van mense regoor die wêreld getrek en Rekord het met die bekende sangeres, Sunette Bridges, wat ‘n leidende figuur in dié veldtog is, gesels.

Gedurende Oktober mik die veldtog om mense regoor die wêreld bewus te maak van die geweld op wit Suid-Afrikaners en wat hulle beskryf as onregverdige wetgewing.

“Die doel met Red October is om ‘n bewusmakingsveldtog te loods sodat die mense in die buiteland se oë kan oopgaan vir wat die werklike situasie in Suid-Afrika is oor swart-op-wit misdaad en die huidige regering se rassistiese wetgewing.”

Bridges het vertel dat tot dusver meer as 10 000 rooi ballonne landswyd vrygelaat is om die Afrikaner se protes te beklemtoon en te wys dat genoeg, genoeg is.

“Rooi bioafbreekbare ballonne word vrygelaat om die bloed te simboliseer van die duisende van ons mense wat die afgelope jaar in die naam van demokrasie vermoor, vermink en gemartel is.”

Alhoewel die veldtog gekritiseer word as ‘n verregse en rassistiese veldtog, het Brigdes en sanger Steve Hofmeyr, wat ook onder ‘n vlaag van kritiek oor sy sterk standpunt oor dié saak deurgeloop het, onlangs by die Red October staptog in Pretoria gemeld dat enige persoon welkom is om saam te stap.

“Hierdie veldtog word deur witmense gereël en daarom is die meerderheid toevallig wit,” het Hofmeyr buite die Pretoria Kunsmuseum op 10 Oktober aan die skare verduidelik.

Bridges het gesê dat sy haarself deelgemaak het van dié veldtog omdat sy en vriende van haar al deurgeloop het onder geweldsmisdaad.

“Ek ken amper niemand wat nog nie ‘n slagoffer van geweld of misdaad is nie. En binnekort gaan ek my kinders moet afstaan by lughawes oor die geweld, korrupsie en rassistiese wetgewing in hierdie land.”

Sy het ook bygevoeg dat wanneer ‘n mens ‘n platform het, hoe groot of klein dit ookal mag wees, is dit belangrik dat jy dit moet gebruik om dinge aan te spreek wat die mense om jou raak en daarom is sy toegwyd daaraan om hierdie saak onder mense se aandag te bring.

“Vir jare het ek gehelp om kos, klere en komberse aan te dra na wit plakkerskampe en elke keer wat ek by so ‘n projek betrokke was, het ek beleef hoe die probleem erger word en die nood groter en die situasie meer desperaat. Ons kan nie bekostig dat nog van ons mense in plakkerskampe opeindig danksy SEB en RA nie.”

Bridges moedig mense aan om by dié veldtog aan te sluit en op Red October se amptelike webblad ‘n petisie te teken.

“Op die webblad is daar ook skakels na artikels en die volledige memorandum. Dit is belangrik dat mense lees en verstaan waaroor Red October gaan. Ons sal ook ons planne vir die toekoms op die webwerf bekend maak en daar terugvoer gee or die Presidensie se reaksie op ons memorandum.”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.
Back to top button