CrimeLocal newsNewsSchools

Bloederige aanrandings duur voort by skole

’n Leerling van Laerskool Voortrekker-Eeufees is steeds in die hospitaal nadat hy verlede Woensdag ’n ernstige kopbesering opgedoen het en ’n leerling van Hoërskool Overkruin het ’n saak by die polisie oopgemaak nadat sy verlede Donderdag aangerand is.

Twee gevalle van bloederige aanrandings is verlede week onderskeidelik by Laerskool Voortrekker-Eufees en Hoërskool Overkruin in die Noorde van Pretoria aangemeld.  ’n 13-Jarige seun is na die aanvalle in die hospitaal opgeneem is terwyl ’n 15-jarige dogter tans besig is om regstappe teen háár aanvaller te neem.

Die 13-jarige Sean Smith is verlede Woensdagmiddag direk na skool met die vuis geslaan, het sy ma, Me-lissa gesê.

“Hy het tydens pouse vir sy kleiner boetie opgestaan wat deur ’n boelie geskop en geslaan is. Die boelie het toe vir Sean gedreig en gese dat hy hóm na skool sou bykom,” het sy vertel.

Haar seun was blykbaar net-net by die kleinhekkie uit waar die medeleerling hom ingewag het en met die vuis geslaan het.

IMG-20131021-WA0002 (Medium)
Sean (13) saam met sy ma, Me-lissa Smith.

“Sean was onvas op sy voete en die gewig van sy tas het ná die hou veroorsaak dat hy agteroor geval en sy kop oopstamp het,” het Smith gesê.

Sean is kort daarna in die Pretoria-Wes hospitaal opgeneem waar hy steeds is.

Sean Smith, skool aanranding, boelie
Sean Smith se wond nadat hy deur ‘n ander seun by die skool aangerand is.

“Ons moet wag vir verdere skanderings om gedoen te word. Intussen het ons gehoor dat sy aanvaller eers Woensdag ’n dissiplinêre verhoor gaan hê. Iets moet gedoen word. Daardie kind kort ernstige hulp,” het sy vertel.

Intussen het nog bloed by ‘n ander skool in Pretoria-Noord gevloei toe die 15-jarige Rentia van Jaarsveld deur ’n 18-jarige skooldogter aangerand is. Die aanranding het verlede Donderdag middag op die skool se terrein plaasgevind.

’n Video wat tydens die bakleiery deur omstanders geneem is, wys hoe die beskuldigde Van Jaarsveld onder andere teen die kop knie en met die kop gestamp het waarna Van Jaarsveld teen ’n klaskamermuur gegooi is. Die impak hiervan het veroorsaak dat een van die vensters gebreek het.

Noo19aanrand01 (Medium)
Rentia en haar pa, Hennie van Jaarsveld.

Van Jaarsveld se pa, Hennie, het gesê dat sy dogter ’n aandeel gehad het in ’n skinderstorie wat versprei het.

“Sy het dit erken. Tog het dit die ander leerling nie die reg gegee om my dogter aan te rand nie.”

Volgens hom is daar gereeld bakleierye by die hoërskool. “Daar is verskeie video’s wat van vorige insidente getuig. Hierdie probleem moet stopgesit word,” het hy gesê.

Die hoof van Hoërskool Overkruin, Cobus Nel, het gesê dat hy bewus is van die voorval. Hy het Rekord na die Departement van Onderwys verwys.

Die Departement van Onderwys het nog geen terugvoer in hierdie verband verskaf nie.

 

Back to top button