CrimeLocal newsNewsSchools

Skoolleerlinge gaan in hof verskyn ná aanranding op medeleerling

Twee skooldogters van Hoërskool Overkruin gaan Woensdag in die Pretoria-Noord-landdroshof verskyn. Dit volg nadat 'n medeleerling verlede week ernstig aangerand is.

Twee skooldogters van Hoërskool Overkruin gaan Woensdag in die Pretoria-Noord-landdroshof verskyn.

Dit volg nadat hul ‘n mede-leerling, Rentia van Jaarsveld (15), verlede Donderdag ernstig aangerand het. Die twee skooldogters is kort ná die voorval in hegtenis geneem en ná ‘n waarskuwing vrygelaat.

Van Jaarsveld se pa, Hennie, het gesê dat aanrandings by skole stopgesit moet word en daarom het hy en sy dogter ‘n saak by die Sinoville Polisie aanhangig gemaak.

 

Rentia van Jaarsveld (15) is op haar oog deur 'n 18-jarige meisie geslaan.
Rentia van Jaarsveld (15) is op haar oog deur ‘n 18-jarige meisie geslaan.

Tydens nog ‘n voorval is ‘n 13-jarige seun van Laerskool Voortrekker-Eufees in die hospitaal opgeneem nadat hý verlede week deur ‘n mede-leerling aangerand is en ‘n ernstige kopbesering opgedoen het.

Rekord het ‘n kenner genader vir kommentaar oor moontlike redes vir dié soort gewelddadige aanrandings in skole.

“Eksamenstres en swak dissipline kan tot gewelddadige aanrandings by skole bydra,” het doktor Pixie du Toit, ‘n forensiese kriminoloog en die voormalige hoof van die Sinoville-krisissentrum in Pretoria, gesê.

Volgens Du Toit is ‘n toename van hierdie tipe aanrandings by skole opgemerk, maar kan daar talle ander redes vir boelies se optredes wees. “Die omstandighede by die huis is ‘n groot faktor om in ag te neem wanneer ‘n mens ‘n boelie wil help om te verander. Boelies vat moontlik juis hul skoolmaats aan omdat hulle dalk self by die huis aan afknouing blootgestel word. Hulle kan dikwels nie teen die ouers, broers of susters optree wat hul afknou nie en kies dus maklike teikens by die skool,” het sy gesê.

Du Toit het verduidelik hoe ouers te werk kan gaan wanneer hul kinders op skool geboelie word asook hoe die slagoffers sélf moet optree. “Ouers moet dit so vinnig as moontlik onder die skool se aandag bring siende dat die skool veronderstel is om ‘n anti-boeliebeleid in plek te hê. Deur middel van daardie beleid kan kinders bemagtig word en leer hóé om op te tree wanneer hul geboelie word. Dit help nie om boeliegedrag met boeliegedrag te probeer wen nie. Slagoffers moet hul man staan en nie weghardloop of terugbaklei nie.”

Dit kon nog nie bevestig word hoe laat die twee beskuldigdes in die hof gaan verskyn nie.

Die woordvoerder van die Gautengse onderwysdepartement, Gershwin Chuenyane, het gesê die onderwysdepartement veroordeel enige vorm van geweld baie sterk. “Dit sluit boelies, fisiese en seksuele aanranding en lyfstraf in ons skole in.”

“Skole is ‘n mikrokosmos van ons samelewing,” het hy gesê. “Daarom is dit die verantwoordelikheid van die gemeenskap en ouers in die besonder om anti-sosiale gedrag te hanteer en waardes van sosiale samehorigheid in hul kinders te vestig.”

 

Hoërskool Overkruin, aanranding, Rentia van Jaarsveld
Dié videogreep van die aanranding by die Hoërskool Overkruin.

Overkruin, aanradning, Rentia van Jaarsveld

 

Klik hier om vorige storie te lees.

 

 

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button