Dodelike kruising eis ’n pa van twee
Die Moot-gemeenskap rou die sinnelose dood van ’n pa van twee wat Dinsdagaand in ’n ongeluk op die hoek van 24ste Laan en Fratesweg dood is.

‘n Geliefde pa van die Moot het Dinsdag sy lewe in ’n sinnelose ongeluk verloor. Freddie Biggs (35), ’n welbekende makelaar, was op pad van sy boesemvriende se huis af in 26ste Laan toe hy die kruising op die hoek van 24ste Laan en Fratesweg wou oorsteek. Dié berugte kruising is bekend vir vele noodlottige ongelukke. Biggs en twee onbekende vroue wat in een motor was, het teen mekaar gebots. Biggs is op toneel dood terwyl die vroue mindere tot ernstige beserings opgedoen het. Riaan van Wyk, ’n boesemvriend asook familie-woordvoerder, het gesê die ongeluk was so sinneloos en dat Biggs ’n baie goeie man en pa was. Biggs laat twee dogters, 12 en nege, wat in Kemptonpark saam hul ma woon, agter.
Volgens Van Wyk het die ongeluk ongeveer 19:00 plaasgevind. “Hy was ’n goeie mens gewees, altyd vriendelik en behulpsaam. Hy was ’n reguit mens en ek het hom daarvoor gerespekteer,” het hy gesê. Janice Buys, ’n inwoner wat oorkant die kruising woon, het gesê daar was in die laaste twee jaar drie noodlottige ongelukke hier. “Daar is gedurig ongelukke op dié kruising en ek glo die enigste oplossing is om dit te sluit.” Rekord het vroeër berig dat Adriana Randall, raadslid van Wyk 52, asook die lede van die BMWcid onlangs ’n publieke opname gedoen het om uit te vind wat die beste oplossing ten opsigte van dié kruising sou wees. “Alhoewel baie inwoners ten gunste van ’n verkeerslig is, is dit ongelukkig nie haalbaar nie omdat dit te naby die ander verkeerslig in dieselfde straat is,” het Randall gesê. Randall en die Tshwane-metro het ’n vergadering gehou en die voorstel wat hulle oorweeg, is die sluiting van die kruising. ’n Saak van strafbare manslag word deur die Moot-polisie ondersoek.
