Local newsNews

Reeksmoordenaar erken skuld

'n Vermeende reeksmoordenaar, wat verlede jaar gearresteer is en teregstaan op aanklag van vyf moorde en 'n verkragting op 'n kleinhoewe, sal binnekort in die Pretoria-Noord- landdroshof verskyn.

‘n Vermeende reeksmoordenaar van Pretoria-Noord, wat op aanklag van verkragting en vyf moorde, waarvan hy skuld erken het, sal binnekort weer in die Pretoria-Noord-landdroshof verskyn.

Andries Makgae (52) is verlede jaar deur die Pretoria-Noord-polisie inhegtenis geneem nadat hy verbind is aan die moord van ‘n vrou in 2012. Die polisie het hom glo daarna ook aan vier ander moorde, waarvan die lyke ontbind en by die Haakdoringboom-kleinhoewe gevind is, verbind.

Makgae het glo in ‘n verklaring op al vyf moorde skuld beken, maar kon glo nie onthou of hy hulle almal verkrag het nie.

Volgens die ondersoekbeampte in die saak, ao Werner van den Berg, het Makgae in die verklaring gesê hy het juis vroue geteiken omdat hy ‘n haat vir hulle ontwikkel het nadat hy uitgevind het sy vrou is ‘n prostituut. Een van die moorde was egter die van ‘n man wat na bewering Makgae se beste vriend was.

Die man het vermoedelik agtergekom dat Makgae betrokke was by ‘n moord en dié twee het glo daaroor geargumenteer.

Die man is later verbrand in sy huis aangetref en Makgae het glo teenoor die polisie erken dat hy petrol oor die huis gegooi en dit aan die brand gesteek het.

Die vyf lyke is almal op dieselfde kleinhoewe, waar meestal onwettige immigrante woon, gevind. Volgens Van den Berg is twee lyke sowat 200m van mekaar en ‘n derde lyk sowat 400m van die ander twee gevind.

Makgae het glo teenoor Van den Berg gebieg hy sou saam met sy slagoffers na of van ‘n shebeen in die omgewing loop en hulle dan vaspen, verkrag en verwurg.

Hy het die polisie glo na sy arrestasie na die moordtonele vergesel en die plekke uitgewys waar hy die vroue doodgemaak het.

“Hy het ons ook na ander tonele in Kameeldrift en Villieria gelei waar hy beweer het hy nog moorde gepleeg het. Maar die gebied is deur die polisie en honde-eenheid gefynkam en ons kon geen oorskotte of beendere kry nie. Daar is ook geen lyke of vermiste persone by die polisiestasies in die omgewing aangemeld nie,” sê Van den Berg.

Makgae het glo teenoor die polisie erken hy het meer vroue, as die waarop hy teregstaan, vermoor. Hy het glo ook vir die ondersoekbeampte gesê hy kan nie onthou hoeveel vroue hy vermoor het nie omdat daar te veel was.

Hoewel die polisie dit nie kan bevestig nie, meen Van den Berg daar is moontlik meer as tien moorde deur Makgae gepleeg.

Die polisie soek ook nog na Makgae se Zimbabwiese vrou wat spoorloos verdwyn het. Die ondersoekbeampte meen sy kon dalk vermoor gewees het, maar daar is geen bewyse en geen lyk is gevind nie.

Makgae is in Oktober verlede jaar in hegtenis geneem en hy is steeds in aanhou-ding. Hy sal op 25 Februarie in die Pretoria-Noord-laddroshof op aanklag van die saamgevoegde moord-en verkragtingsake verskyn.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button