Een van drie mans wat teregstaan op aanklagte van besigheidsroof is gister borg in die Pretoria-Noord landdroshof geweier.
Drie vermeende rowers het hulle glo verlede Saterdag as kliënte voorgedoen toe hulle omstreeks 08:30 by Electric Express in Gerrit Martitzstraat ingestap en kastig na toebehore gekyk het.
Winkelbestuurder Debbie Montsho het aan Rekord gesê die vyf personeellede was nog besig om vloere te vee en die winkel vir die werksdag voor te berei, toe hulle die mans opmerk. Ten minste een was gewapen, het sy gesê .
Volgens ondersoekbeampte Werner van den Berg het die mans na die kassier gestap en op kontant uit die kasregister aangedring. “Die kassier het vir hulle gesê die geld is nog in die invalkluis geberg en dat hulle nie toegang daartoe het nie. Dit het hulle heeltemal onkant gevang.”
Montsho sê die mans het toe verdwaas rondgestaan. ‘n Ander personeellid het uitgestorm en na die winkel langsaan gehardloop om die polisie te bel.
“Die mans het groot geskrik en probeer weghardloop, maar een van die motorwagte, wat gereeld by die winkel verbyloop, het een vasgetrek en aan die polisie oorhandig,” het Montsho gesê.
“Die personeel het kopgehou en die voorval baie goed hanteer,” het sy trots bygevoeg.
Die polisie soek steeds na die ander twee verdagtes wat weggekom het.
